Sleutelwoorde

, ,

Pantoffels

Toeka-Tokkel no 11: Vuurwerk het my aangespoor en hierdie blog te pleeg.

As jong tieners het ons groepie vriendinne altyd Sondagoggende na kerk by mekaar gespog oor ons ‘hot dates’ van die vorige aand. Elke afspraak is in detail ontleed, van die klere wat jy en hy gedra het (of nie gedra het nie) tot die rigting waarin jy jou kop moes draai om behoorlik te soen (dis nou wanneer òf hy òf jy miskien ‘n bril gedra het). Die beste oomblik was egter wanneer een van die vriendinne so geheimsinnig geglimlag het, en bloot net gesê het: “Fireworks!” Dan het jy nie verder uitgevra nie (verbode terrein), maar tog stilletjies gewonder hoeveel emosie en gewaande pret bygelieg is in daardie een woord.

Kyk, ek was van jongs af baie skepties oor die dinge wat mense kwytgeraak het en die entoesiasme waarmee sekere tydverdrywe aangepak is. Dis tog nie moontlik om altyd in die sewende hemel te verkeer elke oomblik van die dag nie? Ek hou ook van vuurwerke, die soort wat jou bloed laat kook van opwinding, sowel as die soort wat letterlik sterre en balle uitskiet met plof- en zieng-geluide, maar op ‘n stadium, iewers in die vertoning, raak my fut uit … my ore slaan toe, my oë begin brand en dan raak my kop seer. Migraine, ja, nie die soort wat deur ‘n Disprin of twee reggestel kan word nie. Dan wil ek my ou pantoffels aantrek en ontspan.

Daarom soek ek ‘n maat wat weet hoe om my soort pantoffels te dra. Jy weet waar van ek praat? Daardie soort pantoffels wat van skaapvel gemaak is, sterk en stewig, wat binne-in met skaapwol uitgevoer is en my voete lekker warm toevou, wat rubbersole het sodat ek die hond vinnig kan uitneem vir sy nagtelike piepsie wiepsie, selfs wanneer dit reën.

Deesdae, lyk dit vir my, dink elke vrou sy moet ‘n Bella-tipe wees, (ja, ek het toe op die ou einde Fifty Shades of Grey boek 1 EN boek 2 gelees, so ek weet waarvan ek praat). Skielik moet ons almal kan opsit met die Christian Greys van die lewe. Liewe hemel! Hoe voos moes sy nie elke oggend van haar lewe gevoel het nie, seer op plekke wat ordentlike mense nie in geselskap wil noem nie, styf in die lyf, met ‘n ruggraat wat nie weet hoe om homself weer reguit te trek nie. Dis nou bo-op die migraine wat sy sou MOES ontwikkel as gevolg van te min slaap en te veel … wel, te veel.

Dis nie die ergste nie. Wat ek graag wil weet, is: hoe het sy oor haarself gevoel? Selfvoldaan, omdat sy soveel plesier kon verskaf en absorbeer (sonder om ‘n Disprin te drink)? Vol vertroue dat sy die wilde, dominante meneer Grey ‘getem’ het? Stront. Ek sou geweier het om in die spieël in my eie oë te kyk … en te erken dat ek gelieg het oor die vreeslike genot, dat ek vernederd voel oor die feit dat ek  myself soos ‘n sirkusolifant aan toertjies moes onderwerp om die man van my drome gelukkig te maak, dat my gat aan die brand is waar hy my geslaan het, dat ek lus gehad het om hom aan sy knaters te gryp en te druk totdat sy oë uitpeul.

Voordat iemand my stenig: ja, ek besef dat daar dalk mense mag wees wat hierdie soort speletjies geniet. Nie ek nie. Nie die oorgrote meerderheid van vroue met wie ek al gesels het nie. Daar mag ook vrouens wees wat glo dat hulle ‘n man se liefde kan ‘koop’ deur hom op hierdie manier gelukkig te maak. Ek glo dit nie. Ek weet dit sal nie vir my werk nie, want op een op ander stadium gaan ek daai knaters beetkry. Ek weet, in my binneste, dat so ‘n man weer en weer oor die draad gaan spring, want soms is liefde nie genoeg nie en ek is nie een van diegene wat glo dat alles vergewe kan word nie, veral nie die vernedering wat ek myself sal aandoen in die voortdurende proses van vernederende onderwerping en daaropvolgende vergiffenis nie.

Hoe bedryf ek dan ‘n verhouding? In die eerste plek glo ek nie aan gedwonge liefde nie; ek is nie die soort wat teen alles en almal sal ‘veg’ om ‘n man te behou nie; ek weier om heeldag, elke dag en sonder ophou te ‘werk’ aan ‘n verhouding. My verhouding moet geskoei wees daarop dat ek en my maat mekaar aanvul soos ‘n paar snoesige pantoffels, dat ons mekaar sal warm en veilig hou, dat ons sal deel in tydverdrywe en in ernstige geestelike ervarings waarin albei van ons belangstel, dat ons lekker sal kan speel, bo en onder die lakens, mekaar sal bystaan en regop hou in moeilike tye … en so nou en dan goed die moer in word sonder om mekaar emosioneel te vervodde. Dit is my idee van ‘n suksesvolle verhouding. Dit is my idee van vuurwerke.

Ek besef dat nie almal dieselfde dink nie; jy is welkom om van my te verskil, maar dan kan jy nie een van die pantoffels in my verhouding wees nie. Dan moet jy maar die pad vat in jou stylvolle cowboy boots en jou ‘fireworks’ gaan koop by die Chinese winkeltjie om die hoek. Pasop net dat jy nie jou vingers verbrand of die vuurpyl per ongeluk as ‘n butt plug gebruik nie.

Advertisements