Sleutelwoorde

, ,

Die skoolvakansie het aangebreek. Die eerste stroom 4×4’s, met Ventertjies op die stert, sleep al van vroegoggend af  hier op die N2 verby. Dit is tyd vir die inheemste bevolking van hierdie kusdorpie om stil-stil weg te raak – alle inkopies vir die volgende paar weke is reeds afgehandel, die nodige rye klaar gery en oorpluisies aangeskaf.

Nou kan ons terugsit en dophou wat gebeur wanneer twee wêrelde mekaar ontmoet op die strand om te swem of te hengel:

Aan die een kant is daar die inwoners wat met min (of geen) klere aan nie en wat almal neutbruin is; die sonbrand maak dat jy op ‘n afstand nie kan onderskei tussen die rasse nie. Nie dat ras saak maak nie, almal woon maar so op ‘n bondel hier, sommiges in groot huise en ander in meer nederige wonings. Hier vang hulle vis met onbeduidende visstokkies wat al ‘n bietjie verlep lyk, of meer as een keer reeds herstel is, en in sommige gevalle is die stok net ‘n stuk suikerriet met ‘n vislyn en hoek aan. Die vis, saam met brood, dien in baie gevalle as die enigste ete vir die dag.

Die besoekers smeer sonbrandolie aan lê onder groot sonsambrele rond met ‘n koelsak vol bottels en blikkies byderhand. Hulle gebruik blink visgerei en groot katrolle en baie van hulle het kano’s of jet skis waarmee hulle tot agter die branders ry om te hengel. Hulle kla oor die plaaslike kerk wat hulle gemeentelede kom doop in die rivier, die tradisionele rituele wat uitgevoer word langs die strand, die kinders wat kaalgat swem of die opgeskote jongetjies met (of sonder) onderbroekies wat tussen die rotse rondduik op soek na mossels en krewe. Saans klim hulle met seer gebrande rooi lywe in hulle groot bakkies en gaan soek vir vermaak in die groter dorpe. Of anders ontspan hulle op die vakansiehuis-balkonne met ‘n dop, ‘n braaivleisie en klipharde musiek.

Wanneer dit nie anders kan nie, durf die inwoners in vakansietyd ook die N2 aan, maar hulle ry versigtig, want hulle weet daar is mense wat langs pad staan en wag vir hulle taxis. Daar is ook beeste en bokke wat langs die pad wei, vasgemaak aan hulle leirieme om te sorg dat hulle nie voor die motors inloop nie. Die tropwagters staan heeldag saam met die diere in die warm son om toe te sien dat hulle genoeg vreet en saans loop hulle al langs die die grootpad af huis toe.

Die besoekers? Hulle jaag teen ongelooflike spoed verby mens en dier, sien hulle heelwaarskynlik nie eens raak nie. Die tolgelde wat hulle betaal is immers genoeg vergoeding om die paaie te gebruik soos wat hulle wil. Hulle meen die bottels, blikke, plastieksakke en ander gemors wat op die strande rondlê na die vakansie, is ‘n vorm van werkskepping. Die geld wat hulle in die winkels en vakansieoorde bestee, moet goedstaan vir die ongerief wat die inwoners verduur, nie waar nie?

Jy sien, hier is die lewenswyse maar laid-back en niemand is opstêrs nie. Dit het niks te doen met geld, goedere en opvoedingspeil nie, dis net dat daar in hierdie geweste so ‘n mengelmoes van kulture, tradisies, tale, gelowe, kleure, beginsels, modes, aanwendsels en kossoorte naas mekaar bestaan, dat die kuiergaste ons samelewing as ietwat … wel, vreemd, ervaar.

Dis net, om hier geestelik te kan oorleef, moet jy bereidwillig wees om die bestaan van menings of gedrag waarmee jy nie noodwendig saamstem nie, te aanvaar. So, koop maar vir jou ‘n tikka chicken bunny chow en chill, my ou. Die see en die natuur is hier vir almal van ons se genot. Stel tog net jou haai-faai se klank ‘n bietjie sagter, asseblief.

Advertisements