Gossip

Toegegee, in ons klein dorpie was daar nie veel ander afleiding nie en ‘n mens is nooit weer so ontvanklik vir invloede van buite soos juis in jou kinderjare nie, maar wat ek van my tuisdorp die beste onthou, is dat sekere mense so lekker kon skinder.

Vat nou maar vir Antie Julie wat ten minste een keer ‘n week haar sit kom kry het by my ma se kombuistafel. Ja, ons het ‘n sitkamer gehad, maar die kombuistafel  was die kuierplek. Dan pak Antie Julie haar handwerkie uit – sy was ‘n kunstige vrou en haar hande was nooit stil nie – en gesels ‘n hond uit ‘n bos. So tussen die pratery deur drink sy een koppie swart koffie na die ander en rook ‘n hele pak 50 Springbok sigarette.

By haar het ons gehoor van Saterdagaande se sleutel-partytjies waar alle partytjiegangers se huissleutels in ‘n hoed gegooi is en aan die einde van die aand word die hoed rondgestuur – amper soos ‘n kollektebordjie in die kerk. Elke man kry dan ‘n beurt om sy hand in die hoed te steek en ‘n bos sleutels uit te haal. Die man wat sy hand in die hoed gehad het, gaan slaap daardie aand oor by die huis waar die sleutels in die voordeur pas. Antie Julie het altyd geweet wie het by wie geslaap en wie loop met toegeswelde oë rond.

Eers wanneer daai pak Springbokke sy gat gesien het en die koffiekan leeg was, sou sy opstaan om huis toe te gaan. Dan het my ma die deure en vensters wyd oopgegooi om ontslae te raak van die rookreuk voordat my pa huis toe kom, maar daar het deurentyd so ‘n klein glimlaggie om haar mondhoeke gespeel. Ten spyte van my pa se voorspelling tot die teendeel, is Antie July toe niè dood aan emfiseem nie.

Dan was daar Tant Ellie wat al soveel operasies oorleef het dat sy, in haar eie woorde, uitgehol was van binne. Dan sit sy daar by die kombuistafel en beduie met haar hande oor haar buik hoe die dokter haar gesny het; daardie jare het jy nie jou bloes opgetel en gewys nie, a nee a, ons was ordentlik. “Mens, hy het my gesny van die een sy tot die ander sy; die snymerk lyk kompleet soos ’n hoed se rand”. Al die operasies het ook niks gehelp nie, want sy het elkers nog gekla: “Ek het vandag weer so ‘n rug kop aan my” (of ‘n bors, ‘n kop, ‘n maag). Sy het darem, so met uitgeholde lyf en als, digby die 100 jaar oud geword.

Tant Ellie het nie net haar eie siektes haarfyn beskryf nie, maar sy het geweet van alle siekes in die dorp se kwale ook. Sy was altyd die eerste een wat geweet het as ‘n stoute meisiekind ‘lyf gekry’ het en sy was nooit verkeerd nie – agt of nege maande later was die bewys daar, toegerol in ‘n pienk of blou kombersie. Hoe sy aan haar kennis gekom het, was altyd vir ons ‘n raaisel, want sy het baie selde haar huis verlaat, behalwe vir haar weeklikse ‘teetjies’ aan ons kombuistafel.

By dieselfde kombuistafel het ek nagenoeg al die nodige kennis in verband met seks ook opgedoen. Nee! Dis nie wat jy dink nie! Ek was ordentlik! My ma het ‘n oujongkêrel-neef gehad wat in die manskwartiere van die mynwerkers gewoon het. Koenie het elke Sondagmiddag opgedaag by ons tafel vir my ma se heerlike gebraaide aartappels en skaapboud. Net sodra die ete verby en die tafel afgedek is, en my pa kamer toe verkas het vir sy middagslapie, het Koenie sy bottel suikerbone te voorskyn gebring, die soort waarvan my ma boontjiesop gekook het.

Die storie is nou so: vir elke meisie wat Koenie kon oorreed om ‘n nag saam met hom deur te bring in die slaapkwartiere, het hy een boontjie in die bottel gegooi. Elke week het hy sy trofeë kom vertoon en in besonderhede beskryf met wie en hoe die ‘mannesport’ verloop het. My pa was iesegrimmig oor hierdie storietjies en het sommer prontuit gesê Koenie lieg; hy is so lelik soos die nag en niemand sal vir hom kyk nie. Buitendien was dit onfatsoenlike geselskap. Dis hoekom ons moes wag tot my pa se snorkgeluidjies aangedui het dat hy in die bed is vir sy middagslapie.

Ek en my ma kon nie wag vir die volgende episode van die ‘soapie’ nie en agterna het ons ‘n hele week lank iets gehad om oor te lag. Gelukkig het my ma nie daaraan geglo om geselskap en boeke te sensor nie, net solank Pa dit nie te hore kom nie.

Toe een Sondag, daag Koenie daar op met ‘n vol bottel bone en hy sê vir my ma sy kan nou maar die bone vat om sop mee te koop, want hy het nou homself bekeer. Hy het seker, want kort daarna het hy getrou met ‘n vreeslike oulike weduwee (tot my pa se stomme verbasing). Ons het nooit gevra of haar boontjie ook in die bottel was nie en my ma het toe nooit die boontjies in ons sop gebruik nie. Die bottel het lank daar op die spensrak bly staan.

Die lekkerste skinderstories het egter van die prediker af gekom wat op ‘n stadium ons gemeente bedien het. My pa was hoof-ouderling en onder die vaandel van kerklike tugsake wat bespreek moes word, is gemeentelede se sondes opgedis en veroordeel, net daar by ons kombuistafel. Ek en my ma was nie toegelaat by hierdie sessies nie; ons moes net die tee en eetgoed voorsit en ons dan uit die voete maak. Dis nie om dowe neute dat daar ‘n tuinbankie reg onder die spens se venster gestaan het nie …

My ma het na einste daai prediker altyd verwys as die ‘verbrande ou fariseër’ en toe ons teen die einde van sy bedieningstydperk gehoor het dat hy sy hande nie van jong meisies kon afhou nie, was Ma in haar element, totdat sy besef het sy kan die storie nie oorvertel nie. Ons was ordentlik sien? Ons mog luister na skinderstories, maar ons sou dit nooit oordra nie.

In opdrag van Scrapydo Toeka-Tokkel 6: Tuisdorp

Advertisements