Dis reëntyd hier by ons. Dit donder en blits nou elke nag en die water stroom teen die heuwels af. Bedags skyn die son so floutjies, maar meesal is dit dig bewolk en die water hang letterlik in die lug rond. Nie dat ons kla nie, want ons het die water bitter nodig gehad.

Ons strand is letterlik tussen die see en die rivier geleë. Die grootste deel van die jaar lê die waters in die riviermond en die oseaan vreedsaam langs mekaar. Vakansiegangers het ‘n groot stuk strand om rond te lê in die son, terwyl die walskippers hulle bote van die strand af in die water laat gly.

Gedurende die droë seisoen, is die water in die riviermonding vlak, maar wanneer dit hard begin reën en die see ontstuimig word, stoot die branders die sand hoog teen die wal uit sodat die riviermonding verberg is as jy op die strand staan.

Mtwalume river mouth in the dry season
Die watervlak in die strandmeer is laag in die droë seisoen
Sandbank in front of Mtwalume river mouth
Die branders stoot die sand uit sodat ‘n hoë sandduin die riviermond verberg

Dan skielik, op ‘n dag, sien jy sommer hier vlak in die branders waterskilpaaie en rogvisse baljaar en jy begin saam met hulle wag vir die groot deurbraak, sodat die riviermond vir hulle toeganklik is. Dis broeityd.

Vanoggend vroeg kom die roep van die balkon af: “Hy’s oop!” en niemand twyfel oor die strekking van die woorde nie. Met kameras wat rondswaai om die nek, storm ons af strand toe om te gaan kyk. Ons staan lank en verwonder ons aan die krag van die water wat die sandbank wegkalwe sodat die rivier sy oorvloed in die see kan stort.

Mtwalume river breaking through to the ocean1
Met die sandbank weggekalwe, ontmoet rivier en see mekaar
Mtwalume river breaking through to the ocean2
Die rivierwater bruis deur die opening

Die water in die see is nou tweekleurig. Voor is so ‘n modderbruin streep (heerlik vir haaie om in te baljaar en klein vissies wat van die rivier af deurgespoel het, te vang 😀 ) en aan die agterkant tot teen die horison is die see grys, die waters ontstuimig van die wind wat opgesteek het.

Buite spat die reën teen die vensters en ons is dankbaar.

Advertisements