Voordat ek uitwei oor my Eerste soen, moet ek nou eers vertel:

Dit was in die vroeë sestigerjare en ons was so dertien of veertien jaar oud, my beste skoolvriendin en ek, en die oumense het gesê ons begin rooi hakskene kry. Haar pa het ‘n ou gramofountjie gehad waarop hy ons soms toegelaat het om sy allerheiligste 78 RPM plate te speel; dan het ons die lywe geswaai op die maat van die blikkerige musiekklanke. Daar was onder meer die die ou liedjie Sweet Sixteen and Never Been Kissed van The Blue Mountaineers waarna ons oor en oor geluister het, terwyl ons gedroom het van die Eerste Soen. ‘n French Kiss natuurlik – geen piksoentjies vir ons nie.

So ‘n jaar of twee later was ons al redelik benoud, want die gevreesde ouderdom van sestien het begin nadersluip en ons soen-ervaring was nog maar bra flou. Toe, op ‘n dag by die dorp se swembad, was daar Attie. Natuurlik het ons vir Attie al voorheen geken, hy was immers in dieselfde klas as ons, maar dis so ‘n ander soetseer wat in jou keel vassteek wanneer die bekende gesig voor jou uit die swembad verrys met die blink waterdruppels wat klou aan die lang wimpers en afrol oor die onverwags gespierde bolyf.

Nie links nie, het ons geselsies aangeknoop en toertjies uitgevoer in die water wat alles daarop gemik was om sy aandag op ons ontwikkelende kurwes te vestig. Dit was ‘n hele wedywering, maar Mariet was ‘n mooi meisiekind met pikswart krulhare en sulke diep blou oë waarin enige seun met graagte sou verdrink. Ek was dus nie verbaas toe Attie haar blitsvinnig in die hoek van die swembad vasgekeer het nie. Die Eerste Soen was op pad.

Enkele minute later spring Mariet uit die swembad en laat spaander heuwel af, reguit huis toe, nog steeds met net haar swemklere aan. Ek agterna, maar teen die tyd wat ek met haar opvang, sien ek sy spoeg soos ‘n slang en hoor sy gebruik onbetaamlike taal. Veel later kry ek eers die storie uit haar: “Die blêrrie swerkater het sy tong so diep in my keel afgedruk, ek sweer hy’t probeer om my mangels skoon te lek. O, ek is so naar.” Sy spoeg nog ‘n keer. “Jy kan hom maar kry as jy hom wil hê,” bied sy aan, maar vir sulke naarheid het ek tog nie kans gesien nie.

So ‘n paar jaar later, as deel van eerstejaar-ontgroening en –kenmekaar, word ons elke naweeks-aand afgepaar met ‘n ander manskoshuis se eerstejaars. Dan loop ons in sulke lang rye by die voordeur uit, verby die wagtende ry eerstejaar-mans en gryp die outjie voor in die ry se hand. Hy is dan jou date vir die aand. My kamermaat, ‘n lang, lenige atleet, se date is daardie aand toe so ‘n dikkerige outjie met ‘n bril en tenminste ‘n kop korter as sy. Ek kry so ‘n regte jafel, maar hy is nou nie van enige belang in hierdie storie nie.

So beland ek by my eerste diskodans. Ek verwonder my aan die oorverdowende geraas, die baie lywe wat loslittig oor die vloer beweeg en daardie flitsende ligte. Daar is een so ‘n verblindende wit lig wat so elke paar tellings flits en dan lyk dit vir ‘n oomblik lank asof jou lewe tot stilstand kom om ‘n foto te neem met een van daai outydse kameras.

Ons begin ook maar die arms swaai en die bene ritteltit soos almal om ons, maar na ‘n paar minute word ek daarvan bewus dat my kamermaat se date so om haar nek hang, terwyl hulle ‘n lang, innige soen deel. Sy voetjies vat net-net grond, maar hy klou en sy dans met albei se lywe. Elke keer as daai lig flits, sien jy net hoe hang die kortejie onderstebo aan my kamermaat se lippe, nes ‘n vink wat besig is om ‘n nessie te bou bo-oor ‘n groot poel water. Ek verwonder my toe so dat ek myself skoon uit my eie date uit dans, maar daardie flitsende oomblikke sal my lewenslank bybly.

Vink

Net hier skuins rondom my sestigste verjaardag, besluit my dogter om my saam te vat op ‘n vakansie, Mauritius toe. Sy weet ek haat dit om te vlieg en dis ‘n vier-ure vlug. (Ek is ‘n control freak, sien? As ek nie self kan bestuur nie, wil ek nie saamry nie.) Dit kan egter nie hoër of laer nie en sy vat nie nee vir ‘n antwoord nie.

Die vliegtuig het aan elke kant van die paadjie drie sitplekke en omdat ons ‘n bietjie laat by die lughawe opgedaag het, kry ons toe nie sitplekke langs mekaar nie, maar wel oorkant die paadjie van mekaar af, sodat ons darem kan gesels. Aan die ander kant van my dogter sit Gary Glitter en sy metgesel, albei met glinsterende rhine stones en blinkertjies op hulle denimbroeke en –baadjies. My dogter sien ek grinnik en beduie vir my om myself te gedra; sy wil haar nou nie weer skaam vir haar ma nie.

Links van my sit ‘n jong paartjie wat Frans praat en duidelik vreeslik verlief is. Nog voordat die vliegtuig sy stert en vlerke kon oplig, begin hierdie twee vry dat ek nie kan help om te bloos nie. Hulle hang oor mekaar, dit wriemel en hy gee sulke lang kreune soos ‘n gewonde dier, maar hulle is aanmekaar vasgesuig soos twee suigvissies. Dit lyk of hulle mekaar se brêkfis wil uitsuig. Dit hou ook nie op nie en die man beland so elke nou en dan amper op my skoot sodat ek later bang is dat ek ook gaan deel word van die gesoenery. My dogter rek haar nek al hoe langer om ook te kan sien. Dit gaan aan, amper vier ure lank, totdat ons genadiglik op Sir Seewoosagur Ramgoolam se lughawe land … die langste vlug van my lewe.

In die ry by doeane staan my dogter nog steeds en skud van die lag. “Ma,” sê sy, “dit was nou ‘n ding om te aanskou.”

“Ja my kind,” sê ek, “daai was nou ‘n regte, egte French Kiss.”

Suigvissies

My eerste soen? Ag nee wat, dit was sommer ‘n non-event, niks om oor huis toe te skryf nie.

Advertisements