Sleutelwoorde

,

Ek kry Nog steeds baie besoeke op my blogpos Sout van die aarde deur internetgebruikers wat op Google en ander soekenjins soek vir inligting in verband met valstande: “hoe maak jy valstande wat geel geword het weer wit”, “wat maak valstande mooi skoon”, “raad vir skoonmaak van valstande”, ens. Snaaks genoeg vra niemand “hoe eet jy met valstande” nie, want dit is wat èk graag wil weet, maar meer hieroor later.

Hier is wat ek doen om my tande skoon te maak (en my gewone vrywaring geld: Ek neem geen verantwoordelikheid daarvoor as jy my raad volg en jou tande breek, kraak, word swart, raak weg of byt jou nie. Valstande is duur om te vervang – handle with care).

My tandarts het my die raad gegee om nie gewone tandepaste of enige soorte poeiers wat growwe deeltjies bevat, te gebruik om my tande skoon te maak nie. Dit verooraak groefies in die tande waar skadelike aanpaksels kan wegkruip – ek weet nooit wat die verskil is tussen kieme, bakterieë, virusse en sulke goed nie, ek verwys sommer deur die bank na alles as kieme. Dus, moenie jou tande krap of ploegvore daarin borsel nie, dit word ‘n wegkruipplek vir kieme.

Volgens my tandarts is die beste skoonmaakmiddel skottelgoedwasseep (Sunlight Liquid) en ‘n sagte naelborsel. Nee, mens borsel NIE jou tande in die kombuis terwyl jy skottelgoed was nie – gaan doen dit in die badkamer. Ek self gebruik verkieslik nie ‘n naelborsel nie, want my gesin sal beslis nie kan onderskei tussen naelborsels vir toonnaels en naelborsels vir tande nie. Ek gebruik so ‘n fênsie halfmaan-tandeborsel wat maklik as sulks herkenbaar is. Onthou om ‘n handdoekie onder in die wasbak te sit, want seepgladde tande glip rond en val.

Nadat ek my tande geborsel het, spoel ek dit af met louwarm warm (as die water te warm is, kan die tande dalk buig en beskadig). Dan week ek dit in ‘n oplossing van water en ‘n mondspoelmiddel vir tien minute, terwyl ek my mond uitspoel met die onverdunde weergawe. Dit bevat glo antiseptiese stowwe en maak hopelik sommer alle kieme in my mond ook dood. My tande is darem nog mooi wit, soveel so dat my man sê elke keer as ek glimlag, kry hy kopseer. Die verblindende wit kleur lyk altevol na weerligstrale daar agter op die see, sê hy. Jaloesie, sê ek.

Tussen hakies, ek sien nou deesdae op Facebook ‘n advertensie rondsweef wat beweer dat jy jou skurwe hakskene moet week in ‘n mengsel van Listerine, asyn en water. Ek weet darem nie; dit klink sommer na bul-kakkies en buitendien sal my voete nie in my tandekoffertjie inpas nie.

Ja, ek het hierdie wit plastiek tandekoffertjie met ‘n toeklapdekseltjie wat net groot genoeg is om ‘n stel tande te bevat. Dit is gerieflik vir die week van tande, of vervoer na die tandarts toe, of sommer vir “inlê” in skoon water wanneer ek hulle uithaal vir enige rede. Dit lyk darem soveel beter as ‘n glas waarin jou tande vir jou lê en grinnik en is te koop by meeste groot apteke teen ±R30.

Sommige mense sê jy moet jou tande vir tien minute week in huishoudelike bleikmiddel, wit asyn en water in gelyke dele gemeng. My man weet natuurlik van beter wanneer dit by sulke dinge kom. Hy is ‘n roker en ‘n koffiedrinker, albei middels wat neig om tande geel te maak. Hy gryp sommer die bottel Domestos wat agter die toilet staan, maak ‘n bietjie aan met warm water en week sy tande vir tien minute. Ek het nog nie gevra nie, maar ek hoop tog hy spoel sy mond en valstande ook met Listerine net om die smaak van seep uit te kry. In elk geval, wat in sy mond aangaan is seker maar sy saak, solank dit net skoon is.

Die beste raad wat ek kan gee? Vra jou tandarts, of as jy geld het om te spandeer op chemiese middels wat spesiaal vir hierdie doel gemaak is, vra jou apteker.

So Antie, hoe gaan dit met Antie se tanne? Dis hoe:

“Hulle” sê, dat jy moet vasklou aan jou eie tande so lank as moontlik, want valstande maak jou lewe hel. Ek hèt vasgeklou en valstande staan wèl so voor die poorte van die hel, maar dis niks in vergelyking met die vuurwarm vagevuur wat ek moes trotseer toe ek nog my eie tande gehad het nie. Nee dankie, ek wil nooit weer my eie tande terughê nie. Dis hoe Antie voel.

Die eerste paar maande was dit seer en ongerieflik, omdat die tande wat ek wel nog gehad het, so afgeslyt en gebreek soos wat hulle was, verbete vasgeklou het (dis die erfenis van die Namakwalandse water wat die harde tandbeen veroorsaak). Die tandarts was dus verplig om hulle uit te sny en die eerste twee maande het ek nie net geweldige pyn beleef nie, maar ek moes ook baie versigtig wees vir infeksie. Voeg daarby dat daar altyd los splintertjies tand en tandbeen is wat agterbly om jou nog meer te teister, dan sal jy weet hoekom ek so ge-“suffer” het, nes Antie Stienie destyds in Agter Elke Man.

Toe ek so ‘n bietjie klaerig raak oor die pyn en lyding, laat weet my niggie daar in Vryheid ek moet begin kougom kou. Ek het eers gewonder of sy van lotjie getik is, maar het tog kougom aangeskaf en so stadigaan begin kou. Nie net het dit gehelp om die splinterjies te verwyder nie (dit klou aan die kougom vas), maar my tandvleise het geleer om straf te verduur – ek kan ook nou soos die Sout van die Aarde ’n steak-n-kidney-pie op die rim ry. 😀 Dankie Niggie! Nie net voel ek beter nie, maar ek kan bubblegum bubbles blaas soos ‘n pro.

bubblegum

Toe die swelsel begin sak het, het my nuwe tande te groot geword en los rondgedwaal in my mond. Net daar pak ek my tande in hulle koffertjie en gaan gee dit vir die tandarts vir ‘n relining. Dit beteken dat hulle weer mondafdrukke doen om jou mate te neem en dan gaan die tande terug na die tandtegnikus toe om dit op te bou en in te vul sodat die tande gerieflik pas. Ek moet maar kort-kort teruggaan vir panel beating, want op my ouderdom verloor jy heelwat aan volume van die tandbeen gedurende die eerste paar maande en elke nou en dan eindig jy op met tande wat los is in jou mond.

My probleem op hierdie stadium is dat ek nog steeds nie ‘n benul het hoe om met my tande te eet nie. Skielik het ek te veel tand en te min mond. Dan dwaal hulle nog rond ook, maak nie saak hoe ek probeer vasplak nie. Dus gaan ek maar volgende week weer vir ‘n retread, soos my dogter dit noem. Totdat die natuur hierdie proses voltooi het, moet ek maar geduldig bly en dan kan ek vir my ‘n permanente stel tande laat maak.

O ja, en ek praat tans met ‘n baie duidelike sleeptong, nes die Sout van die Aarde.

teeth

Advertisements