Sleutelwoorde

, , , , ,

Ek sien toevallig in hierdie tyd dat een van my mede-bloggers se facebook vriende sê, mense moenie so baie kla nie. (Oukei, dis nie toevallig dat ek dit gelees het nie – as jy met my facebookvriende is, lees ek al jou “status updates” en alles wat jy “like” en alles waarop jy “comment” ook. Wees gewaarsku!)

In elk geval, die bloggervriend se Facebookvriend sê toe almal moet onderneem om geen klagtes te lê nie tot na krismis. Om my meelewing met my bloggervriend se facebookvriend te toon, sal ek ook maar my klagtes bêre tot na krismis, maar ek hou ‘n lysie van dinge waaroor ek dalk sou gekla het as my mond nou nie so gesnoer was nie.

Die eerste ding waaroor ek wil bulk, is hierdie onopgevoede vakansiegangers wat gister hier by ons Cabanas aangekom het vir ‘n paar dae se ontspanning. Nou ontspan hulle heerlik en ek is soos ‘n gespanne veer wat dreig om te breek – en dit alles oor my kruietuin. Ek het al vertel van my tuin hier buite wat ek met groot moeite in hierdie winderige gat aan die gang hou, omdat ons so ver van die winkels af woon en omdat vars kruie en groente in elk geval onverkrygbaar is hier rond.

Ek kla nie oor die wind of die ver afstande of die gebrek aan groenigheid nie, hoor? Dis nie op my lysie nie.

So val die vent hier in met sy groot fô-baai-fô bakkie, kyk so ‘n slag om hom rond en rek sy spiere uit (seker maar lank gesit op daai paar boude) en toe zip hy oop en laat zip net daar oor my vars kruie. Hierdie cabanas het almal twee toilets, daar is ‘n groot grasperk en ‘n moerse groot kloof agter ons, maar hy ontzip oor my kruie! Ek kry môre ‘n huis vol mense en my dogter moes alles net so los om in hierdie verkeer saam met honderde  ander fô-baai-fôs (met Ventertjies aangehaak) Hibberdene toe te ry en in die Spar se moerse lang toue te gaan staan vir vars groente. Bliksem! Hy weet ons het hom gesien en hy weet ons het sy zipper goed bekyk. Niks besonders daar nie.

Maar ek kla nie. Ek sal niks kla tot anderkant krismis nie.

Mannekin

Ek gaan ook niks sê oor hierdie Sedoos wat nog steeds stormsterkte hier om die hoeke van die huis ween soos ‘n onstemde gees nie. Ek moes vanoggend wasgoed was en het die klereperdjie hier buite opgesaal. Sal die verdomde Sedoos nou nie wragtag ‘n spierwit t-shirt gryp en oor die muur gooi sodat hy binne-in die cabana langsaan se jakoesie gaan val nie? Dis einste hierdie jakoesie wat nooit skoongemaak word nie (nie deur die bure nie bedoel ek) en altyd lyk asof daar ertjiesop in gekook word. Ek weet, want ek en my dogter het al stilletjies daklangs gesluip (ons woon op die boonste verdieping, jy weet, nè?) en die ertjiesop gaan uittap om ontslae te raak van die muskiete wat daarin broei. Wonder of hulle ook ontzip in daardie bad? In elk geval, toe is my dogter in die Spar by Hibberdene en ek moes op die vlerke van die Sedoos daklangs vlieg tot anderkant die muur om die wit hemp uit die ertjiesop te red.

Maar dis nog nie tyd om te kla nie. Krismis kom nog.

Ennieway, omdat dit so vervlaks warm is (en ek kla nie daaroor nie, gehoor?), is ons besig om vleis gaar te maak wat ons koud kan voorsit vir ons kersmaal. Ek het die hele jaar lank gespaar vir ‘n skaapboudjie en dis ‘n mooie boudjie, maar dêmmit, die stoof is warm – nou nie dat ek wil kla nie, hoor? Ek maak ‘n hoendertjie ook, want ek en my nuwe kunsgebit het mekaar nog nie gevind nie en ek kan die skaapboude kou nie, maar ek kan darem ‘n saggekookte hoenderboudjie afsuig.

Maar ek kan darem nie kla nie. Ek kan tenminste mooi smaail.

Toe ek nou vir my nuwe tande gaan kry het, dog ek toe ek gaan vriendelik wees met my man (“vir ‘n verandering”, sê hy), want dit was so om en by sy verjaardag, en ek koop sommer toe vir hom ook nuwe winkeltande, want syne was al effens afgeslyt. So kan ons nou albei mooi smaail.

Ons het juis die afgelope paar maande gelewe van hoender – hoendersop, hoenderpaais, hoender in alle vorme wat sag genoeg was vir my om aan te suig. Toe raak my man so effens ongeskik, want hy sê hoender is nie vleis nie, dis plêstiek, ‘n namaaksel van vleis. Dis hoekom ek so gespaar het vir die skaapboudjie. Hy is gewoond aan mensgemaakte tande en het geen probleem om ‘n skaapboudjie te verorber nie.

Staan ons nou so in die kombuis, toe kom my man daar in en hy gee net een kyk: “Ag nee, hoender vir krismis!” Toe kyk hy ‘n tweede keer en sê: “O, en ‘n skaapboudjie ook!” en hy smaail breed vir my. So ‘n askiestog-smaail.

Ek het nie gekla oor sy houding nie, want dis nog nie krismis nie, maar mense wat vir my kners en dan vir my smaail met my tande wat ek in hulle monde geplaas het, moet net weet – krismis kom … en krismis sal gaan, en dan gaan ek ‘n paar dinge te sê hê.

Advertisements