Sleutelwoorde

,

Prickly pear

Foto met vergunning van Stan Shebs [GFDL, CC BY-SA 3.0 or CC BY-SA 2.5], via Wikimedia Commons

Ons het in Bloemfontein kennis gemaak met Naomi, ‘n vrou van die Oos-Kaap wat gehelp het om ons laatlam groot te maak. Naomi het nie net my dogter leer Sotho praat nie, sy het vir ons ook ‘n anderse soort taal aangeleer.

By haar het ons geleer dat, wanneer ‘n tand getrek word, voel jy nie die pyn nie; nee, jy hoor hom soos wat hy kraak en losbreek uit jou kakebeen onder die tandarts se tang. Van haar eerste seks-ervaring daar in Dordrecht se wêreld het sy vertel dat daai pad vir die man in my oopgemaak is toe sy nog op skool was.

Sò bring ons eenkeer ‘n sak vol turksvye saam huis toe na ‘n vakansie in die Baai. Naomi het geweier om haar mond daaraan te sit want, vertel sy, as kind het sy eenkeer so baie van die vrug geëet dat sy ge-verstop geraak het en die draad-klerehanger moes gebruik om oop te maak. Ek het liewer nie te veel uitgevra oor daardie ondervinding nie, maar onthou haar finale uitspraak: Nou lus ek hom niks meer nie.

Dis ‘n gevoel wat ek dikwels ondervind – ek lus hom nie. Wanneer iemand my kwaad maak lus ek hom niks meer nie. As die wind aanhoudend waai lus ek die lewe buite die huis glad nie. As die lewe my die dag kwaai druk, dan lus ek hom nie altyd nie.

Tog, daar kom altyd die dag wat die kwade gevoelens weggaan, wanneer die wind ophou waai en wanneer die lewe weer seepglad verloop, dan lus ek hom weer vreeslik. Dan spring die blygeit weer in my op en ek verwelkom die son wat oor my skyn en ek vergewe my vyande enigiets.

Ek lus hom nie altyd nie, maar die lus woon nog in my.

Advertisements