Sleutelwoorde

Dis my kak

Ek is nie altyd tevrede met die verloop van my lewe nie en daar is vele klein dingetjies wat my kan irriteer. Daar is egter net een ding in my lewe wat my so bloedig kwaad kan maak dat ek kan moord steek – diskriminasie.

Ek het dit nou nie hier oor landspolitiek of godsdiens of seksuele voorkeure of sulke onbelangrike dinge nie. Ek praat van hierdie aanname dat ek “minder” en “stoepid” is omdat ek ‘n vrou is. Hoe ouer ek word, hoe meer verbete word hierdie aanname toegepas,  want as jou hare grys is, is jy nog “minderer” en “stoepider” as wat jy voorheen was. Dan moet ander mense namens jou praat en besluite neem. Ek het hierdie irritasie al voorheen aangespreek in hierdie blog (Vat vir Mammie Wimpy toe), maar dis tyd om weer stoom af te blaas.

Hierdie soort van ding gebeur op ‘n gereelde basis. Voorbeeld: ek besluit om vir my ‘n ander motor te koop. Die verkoopsman luister belangstellend na my order wat ek insit, dan begin hy vir my man vertel watter soort motor vir my die beste sal wees. Hy laat my man inklim, al die knoppies en goeters toets, onder die enjinkap kyk en maak ‘n aanbod vir my ou motor. ‘n Goeie aanbod, maar een wat ek nie eens van die hand wys nie. Ek ignoreer dit doodeenvoudig. Teen hierdie tyd sit ek alweer in my ou motor en wag vir my man sodat ons kan aanstoot na die volgende handelaar toe.

Meneer die motorhandelaar, ek wou bitter graag daardie spesifieke motor gehad het, ek is baie beïndruk met die prys wat jy vir my ou motor aangebied het, maar ek sal in een duisend jaar plus een dag nooit enigiets by jou koop nie, want jy het iets baie belangrik vergeet – die ou motor behoort aan MY, die bybetaling gaan uit MY bankrekening kom, dus is die keuse van die nuwe motor MYNE. As jy net een keer met MY gepraat het en MY mening in ag geneem het en my nie soos ‘n oorbodige spaarwiel laat rondhang het nie, het jy met ‘n helse lekker kommissietjek weggestap uit die transaksie. Nou het jy niks, omdat jy my minder geag het. Koebaai en ‘n hêppie broke krismis vir jou.

Dis nie dat ek sodanig omgee as my man betrek word by die bespreking nie; dis immers waarom ek hom saamgebring het, maar moenie, o moenie my ignoreer asof ek ‘n stopstraat is nie – veral NIE wanneer ek die transaksie aangevoor het en die inligting verskaf het nie. Onder die bos grys hare leef daar wragtag ‘n brein!

Die telefoontegnikus het voorheen dieselfde gedoen, hoewel die telefoon en internet in my naam geregistreer is en ek sonder uitsondering die foute aanmeld. Hy weet nou van beter. Die elektriese sogenaamde ingenieur, loodgieter, padmakers en die tuindienste het nog nie die les mooi onder die knie nie.

Dis nie die ergste belediging wat ek al verduur het nie. Die afgelope tyd ruik ons ‘n rot in ons tweede badkamer. Ons soek na die lekplek aan die toilet, maar kry niks. Op warm dae en as die wind van die kloof se kant af opwaai, kan jy nie asemhaal nie. Toevallig lig goeie buurvrou ons in dat die munisipaliteit haar hotel se septiese tenks (riooltenks?) kom uitpomp het en net daar kliek iets. Ons gaan kyk, en ja sowaar, daar is so ‘n tenk in ons agterplaas ook, daar onder in die kloof. Nooit geweet nie. Daar waar ons voorheen gewoon het, het jy die toilet gespoel en die inhoud het verdwyn in die niet. Nie hier nie; hier bly die inhoud in ‘n opvangtenk.

Die vriendelike jongman van die munisipaliteit wat ‘n mengsel van Zulu en ‘n geradbraakte Engels praat, kom kyk na ons situasie en beduie met ‘n ernstige gesig dat daar eintlik twee tenks is. “De water go from de first tank to de second tank and den away.” Waarheen? Seker in die grond in, want “away” is net daar onder in die kloof en die bome groei besonder mooi daar. In elk geval: “De shit (sy beskrywing, ek sweer) stay in de first tank. De first tank is now full. Now de shit go back in de pipe.” En dan kry ons die byklankie.

So, ek laat weet die nuwe bestuursraad van die kompleks van ons tenkprobleem. Raai-raai, hulle het ook nie geweet daar is ‘n tenk nie. Die kompleks het baie lank leeg gestaan en niemand weet regtig wat hier aangaan nie. Nou woon ons al amper ‘n jaar hier en vakansiegangers bly in die ander woonstelle wanneer hulle hier opdaag. Die “shit” is nou letterlik in die tenk.

Ek vra ‘n afskrif van die munisipaliteitsrekening by die bestuursraad en bel die betrokke departement. Jammer, hulle kan nie help nie, want die bediening van ons tenk is nie deur die bestuursraad aangevra nie, hulle betaal nie vir die diens nie en ons moet maar ‘n privaatmaatskappy kry. Gelukkig kan hulle iemand aanbeveel.

Ek dra die boodskap oor aan die bestuursraad. Hulle vra besonderhede oor die ligging en grootte van die tenk  en ek daal af na die kloof toe, meet die tenk op (met my man wat instruksies skree van die balkon af, want hy het nog nie sy nuwe knie gekry nie), neem ‘n paar fotos om te wys waar dit is en meet hoe lank die koppelpype sal moet wees. Voeg ook fotos by van die oprit om te wys waar die suiglorrie kan intrek.

Op hierdie punt moet ek nou byvoeg dat ek elke maand alle kommunikasie met die bestuursraad pleeg, ek lees die meters en sorg dat die betaling op die regte plek uitkom. Alle kontrakte en kontakbesonderhede is in my naam. Hulle is gewoond daaraan om met my te deel.

Die “shitty” inligting gaan deur na die aanbevole privaat-maatskappy en hulle bel. Op my selfoonnomer – nie my man s’n nie – myne. Sal dit reg wees as hulle Maandag kom suig en sal meneer van die huis daar wees om by te staan met raad, daad en inligting indien nodig? Nee, meneer loop tans op krukke, maar mevrou sal hier wees. Ja maar die bestuursraad het gesê meneer moet asseblief toesig hou.

Ook maar goed die gesprek het oor die telefoon plaasgevind, want toe spat die inhoud van daardie tenk! Na al die moeite wat ek gedoen het en al die inligting wat ek deurgestuur het, is ek in so ‘n mate van “mindere” belang dat ek nie die suiglorrie kan beduie waar om stil te hou en waar om die pype te koppel nie?

Huh? Is dit wat jy vir my sê? Is dit? Nou laat ek jou vertel – ek KAN my eie motor koop en ek KAN my eie shit uitsorteer. Spoel dit in jou toilet af en suig dit op.

 

Advertisements