Vinger

In ons huis het dinge en goete die manier om soek te raak. Dit bly soek totdat almal moed opgee en ‘n ander een gaan koop, wat die rede is daarvoor dat ons vyf pare naelknippers het. Dis ook maar goed so, want nou kan ons so hier en daar in elke kamer een aanhou, as ons nou net kon onthou in watter laai dit is …

Die probleem van die goed wat so soek raak het vele oorspronge, maar die grootste daarvan is die oorerflike verstrooidheid van mense wat so besig raak met werk, koskook, eet, vakansie hou of iewers heen op pad is. Almal praat gelyktydig, deure gaan oop en toe en die hotel se werkers staan en gil oor die draad wanneer hulle koffie / tee / suiker / siegrêts wil leen. Gooi ‘n paar troeteldiere wat miaau en blaf in die mieks en dan sal jy weet hoekom die koek flop. Daar is net te veel dinge wat jou aandag aftrek.

In ons huis is daar ook die een uitsondering wat almal mal maak – die man wat baie te sê het oor die “deurmekaarspul” waarin hy moet leef. Hierdie man raak ballisties as daar ‘n vuil teelepel in die kombuiswasbak lê, want die skottelgoedwasser staan net een tree regs van die wasbak. Is dit nou te veel gevra dat die teelepel in die skottelgoedwasser gesit word en nie in die wasbak nie?

Die man verwag dat die kleinste dingetjie, soos byvoorbeeld ‘n naelknipper, op ‘n bepaalde plek moet wees, enige tyd van die dag of nag, WANT ‘N DING HET ‘N PLEK. Elke artikel moet (soos nodig) skoon gewas, gestryk, opgevou, opgehang, toegemaak in ‘n boksie, binne-in ‘n spesifieke laai, agter ‘n toe kasdeur en altyd op dieselfde plek wees. Pure wensdenkery.

Ongelukkig beteken dit dat die man meer as een keer per ‘n dag uitbars:

  • “niks-in-hierdie-huis-het-’n-plek-nie” (want iemand het ‘n selfoon op die kombuistafel gelos)
  • “die goed lê weer die hele wêreld vol” (wat moontlik beteken dat daar twee selfone op die kombuistafel lê)
  • “die goed is in almal se pad” (menende dat een van die selfone op die broodplank op die kombuistafel lê; dieselfde broodplank waar die man nou graag ‘n toebroodjie wil maak)

Die huismense reageer voorspelbaar na elkeen se aard:

  • “Maximanus,” sê die dogter van die huis en maak haar slaapkamerdeur toe.
  • “Brommedaris,” sê die seun van die huis en loop uit met sy visstok in die hand.
  • Die vrou van die huis het nie ‘n wag voor haar mond nie: “Hierdie selfoon se plek is daar waar ek hom neersit!” of “Jou wêreld is ook maar weer klein vandag!” of “Watse pad? Is daar ‘n voetpad op die broodplank?”

Dan wip die man sy gat in ‘n krul en gee pad na die hotelgronde toe, sommer vir die res van die dag.

Dieselfde man het ook die gewoonte om alles wat volgens hom “rondlê”, onmiddellik te gaan bêre, nie noodwendig op die plek waar die eienaar van die voorwerp daarvoor sal soek nie. Ek bedoel, om watter aardse rede sal enige persoon nou verwag dat motorsleutels op die sleutelrakkie sal hang?

Dit beteken dat die geïrriteerde eienaar van die voorwerp wat “gebêre” is, moet gaan soek na die man om uit te vind waar die voorwerp nou weer gebêre is. Het ek genoem dat die hotel se gronde, heuwel op en heuwel af, groot genoeg is om in te verdwaal? Sy selfoon lê natuurlik permanent op sy lessenaar, twee duim regs van sy rekenaar af en raak nooit weg nie. Word ook nie saamgedra nie.

So ‘n gebeurtenis verskaf natuurlik groot genoegdoening aan die man wanneer daar aan hom hierdie gulde geleentheid gegun word om eers stoom af te blaas omdat “niks-in-daardie-huis-‘n-plek-het-nie”, voordat die verlangde inligting verskaf word.

Dit kan ‘n tydsame tydverdryf word as iets in hierdie huis soek raak. Dan koop ons maar liewer nog een.

Advertisements