Sleutelwoorde

, , ,

Honey

Vanoggend, so met die wakkerwordslag, was my moer sommer klaar omgeslaan. Dit het deur die nag ligweg gereën, die mis hang laag oor die grou see, dis bibberkoud en die wind huil om die huis se hoeke soos ‘n boosaardige gees. Ja, natuurlik sê ek vir myself, dis mos die 1ste September en soos gewoonlik op enige Lentedag is die weer so mislik as wat kan kom.

Onmiddellik dink ek terug aan die Lentedag-vieringe van my kinderdae. Ons moes elke jaar op hierdie dag deur die dorp se strate paradeer in lenteklere: sulke geblomde kortmourokkies met uitskop-onderrokkies en sandaaltjies vir die dogtertjies en wit kortmouhempies en kortbroekies vir die seuntjies. Dan het ons die pienk heiningrosies afgepluk (en onderlangs geswets oor die dorings wat ons gepiets het), voordat ons straataf gemarsjeer het van die skool af tot by die burgersentrum. Daar het die burgemeester se vrou en haar dames ons ingewag met koekies, koeldrankies en roomyshorinkies.

Klink heerlik nè? Daar was net een probleem: Lentedag was tradisioneel, sonder uitsondering, die koudste dag van die jaar in ons dorp. Die wind het dwarsdeur jou ribbes gewaai en as dit die jaar gereën het, was Lentedag die ideale tyd daarvoor. Daar staan al die dorpskindertjies dus in lang toue, uitgedos in vrolike klere, en wag vir ons roomys op ‘n dag wat eintlik bedoel is vir dik ertjiesop en vars plaasbrood, lippe en hande blou van die koue. Ons het elke oomblik daarvan gehaat, maar ons het geglimlag en kniebuiginkies gemaak om dankie te sê vir die lekker eetgoed, want ons was mooi geleer daardie dae.

Dit alles warrel deur my kop toe ek vanoggend hier deur die venster staan en kyk hoe die walvisse in die water speel daar ver op die horson. Simpel visse, dink ek by myself, dis ook net hulle wat hierdie soort weer sal waardeer. Verbeel jou, om so in die yskoue water te baljaar asof hulle vakansie hou op ‘n tropiese strand. Ek het sommer my gordyne toegetrek en geluister na my Harry Potter oudioboek (ja, jy’t reg gelees – Harry Potter; ek het nie opgehou om van feetjies en heksies te hou net omdat ek oud geword het nie).

Baie laat die oggend, wel dit was al meer by middagete se kant verby, het ek eers myself kon oorreed om pajamas uit te trek en te gaan stort. Net daarna bel buurvrou om te sê ons moet oorkom – hulle het ‘n byekenner daar wat ‘n swerm bye uit hulle dak gaan verwyder en sy het ‘n sjokoladekoek gebak vir Lentedag. Ag nee, net wat ek nodig het, brom ek by myself, nou moet ek weer my warm sweetpak uittrek en in die koue uitgaan.

Daar gekom, was ons net betyds om te sien hoe die swerm bye en heuningkoeke uit die dak verwyder word. Ons verwonder ons aan die bye se sosiale struktuur: terwyl die netjiese nes uit die dak verwyder word, sit die bye op die vloer in groepies bymekaar en my dogter wys daarop dat hulle besig is om mekaar te kalmeer. Dit is ook so, elke senuagtige by wat hom by die groepie voeg, word in die middel ingebondel en “gestreel” totdat hy kalm en tevrede is. Daarna is dit maklik om hulle te oorreed om in die nuwe korf in te trek.

Ons kry stukkies van die vars heuningkoek om uit te suig en agterna gaan drink ons koffie en eet heerlike sjokoladekoek met room. Dit word sommer ‘n heerlike Lentedag, die koue skoon vergete. Die wind het nou gaan lê, die skuifdeure staan oop en ek kyk uit oor ‘n kalmer see waar die son nou besig is om onder te gaan.

Ek hoop almal het so ‘n heerlike soet Lentedag geniet.

Advertisements