Sleutelwoorde

, , ,

Sout van die aarde

Ek het daar doer in Namakwaland grootgeword waar daar ‘n oortollige hoeveelheid floried in die drinkwater is, as gevolg waarvan ek opgeëindig het met die kenmerkende klein tandjies, vuilgeel van kleur en deurspek met donkerbruin vlekkies. Vreemdes vra altyd hoeveel sigarette ek per dag rook om soveel nikotien op my tande te hê. Selfs tandartse trap in hierdie strik en elke keer voordat ek in die stoel neerval by ‘n nuwe tandarts sug ek eers: “Endemic fluorosis. Ek het in Namakwaland grootgeword.”

Hierdie stelling laat menige tandarts bleek word om die kiewe, want nie net is hierdie tande baie lelik nie, die mediese probleme wat daarmee saamgaan is legio. Die tandwortels is baie sterk, tenminste drie duim lank en onder omgeklink (ja, dis amper regtig so erg), maar die porselein-gedeelte is klein, skurf teen die tong en versplinter maklik. Sou die arme tandarts ‘n tand probeer trek, breek die porselein in fyn stukkies en die wortels laat hulleself nie trek nie – nee, hulle moet uitgeboor en opgelig word met ‘n tandarts se weergawe van ‘n koevoet – darem nou nie so groot soos die een waarmee klippe omgerol word nie, maar die aksie is een en dieselfde.

Deur die jare het elke tandarts maar wal gegooi teen die tandetrekkery en probeer om die “ou tandjies te red” deur krone, goud-omboorsels, blink stopsels en / of wit porselein-opvullings aan te bring. Hierdie tande laat nie met hulle speel nie en die krone val voortdurend af, die goud laat die spul tande swart word en verdwyn dan eenvoudig in die wasbak af, die blink stopsels gaan saam met die kos maag toe en die mooi wit opgevulde tand word geel en verbrokkel tot daar later niks van oor is nie.

Op hierdie hogere leeftyd kom ons toe op ‘n punt waar die tandjie links onder in die middel van my gebit sommer eendag net goedmoeds bo die tandvleis afbreek. Die tandarts (‘n baie bekwame man) het die kleine ou tandworteltjie uit die kakebeen uit-geswoeg, -gedreig en -gepleit. Toe is daar natuurlik ‘n gat reg onder in my mond en ‘n paar krone wat so skeef hang, al klouende aan die boonste tandvleis en ek praat met ‘n duidelike sisgeluid. Kry julle nou al die prentjie?

Vroeër hierdie week begin die tandjie net regs van die bestaande gat boosaardig sweer en pyn. Dis nou ‘n probleem, want ons het verhuis en nou moet ek soek vir ‘n nuwe tandarts.

Ek weet die tand moet getrek word en ek is baie ongelukkig, want hoe gaan ek nou lyk met die àl groter wordende gaping onder in my mond. “Toemaar,” troos my man, “Ons kan vir die mense sê dis die nuwerwetse passion gap.” Loop bars, ek het nie lus vir simpel grappies nie. Hierdie keer MOET ek die tandarts oorreed om al die tande te trek en my te voorsien met winkeltande.

Terwyl ek daar in die wagkamer sit en my aanslag beplan, onthou ek skielik die dag wat ek en my dogter in swaar verkeer by ‘n kruising ons rybeurt sit en afwag het. Die verkeersligte was (weer eens / nog steeds) buite werking. Die taxi’s ry soos hulle wil; die res van ons bid benoud vir ‘n gaping. Langs my staan een van daai lang slap motors wat in die jare sestig so in die mode was, nou nerfaf en amper opgeroes (behalwe vir die uitlaatpyp wat skitter in die son), maar die enjin brul nog dat hoor en sien vergaan.

Ek vang so uit die hoek van my oog sulke pikswart vingernaels op die stuurwiel, ‘n gesig vuil van ghries en stof, ‘n gekoekte haredos en verflenterde baard. Toe hy my belangstelling opmerk, glimlag hy oopmond en ewe vriendelik. Die zol hang uit die een mondhoek terwyl enkele tande onder en die kaal tandvleis bo ‘n curry bunny vetkoek ritmies fynmaal. Hy ry daai deeg so op die rim, soos ons altyd gesê het.

“Ma,” sê my dogter nog voordat ek ‘n skewe gedagte kan dink. “Ma, wees vriendellik. Voorkoms is nie alles nie en vuilheid getuig soms net van harde werk. Gewoonlik is hierdie mense die sout van die aarde.”

Ek glimlag dus vriendelik terug en dan kyk ons albei weer ongeduldig na die motorbestuurder voor ons wat kik en mik en nie kan besluit of dit veilig is om te ry nie. Na ‘n paar oomblikke leun die Sout van die Aarde by sy motorvenster uit en skreeu vir die huiwerige bestuurder: “Maar thal jy nou atheblief ry, jou thoepit pxxth?”

Toe ek neersak in die tandarts se stoel, vergeet ek skoon van my fluorosis-Namakwaland-rympie en sê met ‘n huilsug: “Dokter, ek wil assseblief nie ssooss die SSout van die Aarde praat nie.”

Advertisements