Sleutelwoorde

,

Scrapydo se Toeka-Tokkel: Boeke

VakansieboekeEk is ‘n gebore boekwurm. Ek het geleer om lees nog voordat ek skool toe is en het nog nooit weer opgehou nie. Die dag toe ek boeke ontdek het, was die heerlikste dag in my lewe en my eerste biblioteekkaartjie was die grootste geskenk van my kinderjare.

Toentertyd was daar net ‘n klein verskeidenheid boeke beskikbaar in die biblioteek en winkels. Die winkelboeke was te duur (ons was maar arm) en die biblioteekboeke was merendeels horingoud, het uitmekaar geval en gewoonlik was daar ‘n lang waglys. Dan, as jy uiteindelik die boek kry, was daar duidelike tekens van die preutse tante wat alle gewaande vloekwoorde met ‘n pen uitgekrap het en soms was die hele bladsy sommer uitgeskeur, omdat die storielyn as te gewaagd beskou is.

Nogtans het ek gelees, van die oggend tot die aand, enigiets waarop ek my hande kon lê: biblioteekboeke, fotoverhale (Mark Condor, Ruiter in Swart, Die Swart Luiperd en so aan wat daardie jare groot aftrek gekry het), tekenprentboekies, die destydse hygromans waar die heldin gehyg het na haar asem op die laaste bladsy wanneer die held haar uiteindelik gesoen het, en as daar niks anders beskikbaar was nie, het ek sommer die etikette op bottels en blikke gelees.

My ouers het nooit enige verbod geplaas op wàt ek gelees het nie, maar die tystip wànneer ek gelees het en die plek wààr ek gelees het, het ‘n voortslepende oorlog veroorsaak. My pa wou stuipe vang as ek in die kerk gesit en lees het (jammer, die preke was vervelig), maar hy was die hoofouderling en ek het hom in die skande gesteek. My ma het haar doodgeskaam as ek huisvriende en ander besoekers geignoreer en my kamerdeur gesluit het om private leestyd te verseker (jammer, hulle geselskap was vervelig). By die skool was dit ook ‘n storie. Ek het gewoonlik die boek wat ek besig was om te lees in die omslag van een van my skoolboeke probeer wegsteek, maar onderwysers van daardie jare was uitgeslape en detensie na skool was my voorland – nie dat ek omgegee het nie, want in die detensieklas kon ek in elk geval rustig voortgaan om my boek te lees 😀

Toe word ek groot en ek kry my eie huis waar ek kon boeke lees waar en wanneer ek wou. Wel … nie heeltemal nie, want boeke het die manier om vol botter en meel te word in die kombuis, of nat te word wanneer jy die baba bad. ‘n Boek, veral die hardeband soort, is ongemaklik om te hanteer wanneer jy in die bed (of bad) lê. As jou plekmerker uitgeglip het, moes jy soek vir die hoofstuk waar jy laaste gelees het. Boonop moes ek, uit die aard van my werk, baie vakboeke lees en ek moes kort-kort die boek neersit om die woordeboek te raadpleeg of naslaanwerk te doen. Die ergste van alles was wanneer ons met vakansie gegaan het en daar nie plek was in my tasse vir klere nie; te veel boeke ingepak, sien?

Toe, soos manna uit die hemel, kry ek ‘n Kindle by my man. (Nee, hierdie is NIE ‘n debat oor die keuse tussen eboeke en “regte” boeke nie, Liewe Leser. Hierdie is my storie oor boeke wat ek kan lees waar en wanneer ek wil.)

Dalk die voorloper van die Kindle? sê-vra iemand op Pinterest

Dalk die voorloper van die Kindle? sê-vra ‘n spitsvondige siel op Pinterest

Met my Kindle kan ek meer as ‘n duisend boeke saamvat op vakansie, ek kan ‘n woord opsoek op die Kindle se ingeboude woordeboek of aanlyn as daar ‘n WiFi naby is, ek kan in die bad of in die bed lê en lees met die grootste gemak.

Ek kan my Kindle in my een hand vashou en met die ander hand koffie maak of die pap roer, vetkolle of waterspatsels kan jy net afvee en beste van alles, ek kan “skelm” lees, sommerso in die geselskap, want die Kindle kan so maklik agter ‘n koekbordjie of onder ‘n tafel versteek word. 😀 Daar is so ‘n groot verskeidenheid boeke beskikbaar wat ek sommerso kan aflaai; g’n gesukkel biblioteek toe of winkel toe nie en die preutse tannie met haar pen kan nie my boeke sensor nie. Ek kan werk saamvat op vakansie en nog plek hê vir klere ook.

Nou sien ek vandag ‘n advertensie vir egte leer-omslae wat nie net jou Kindle beskerm nie, maar wat ook volgens jou voorkeure ontwerp kan word. Toe dink ek nou so terug aan al die gevegte wat ek met my ma en onderwysers gehad het oor geskikte boeke, geskikte leestyd en geskikte leesplek: as ek nou daardie jare al my Kindle gehad het en ek het vir vir hom so ‘n mooi leerjassie laat maak wat gelyk het soos my Psalms en Gesange boek, of dalk een wat my voorgeskrewe boek se omslag nageboots het, kon ek darem baie meer leestyd en minder probleme gehad het.

Ek is net te vroeg gebore om in te haal op al die duisende boeke se lees waarvoor daar nooit tyd of plek in my lewe was nie.

Advertisements