As jy die woord OPERASIE sien of hoor, waaraan dink jy? vra Scrapydo.

“Operasie” het vir my net èèn begrip en dan ook nog een waarvan ek niks hou nie: hospitaal, dokter, binne-aarse voeding, inspuitings, bloed trek, pille, pyn, siek wees. “Operasie” is iets wat ek so ver as moontlik probeer vermy, maar soms is dit natuurlik net nie moontlik nie.

So bietjie meer as ‘n dekade gelede het ek genoeg ondervinding gehad van “operasies” (ja, meervoud) – soveel so dat ek vandag nog kwalik my dokter of my apteker op straat groet. Nie dat hulle enigiets verkeerd gedoen het nie, maar hulle is deel van die mediese beroep en daar is ‘n sekere konnotasie met operasies.

Maar ek wil vandag by die operasie verby beweeg na ‘n storie wat verband hou met die nagevolge van die operasies. Dis nou ‘n storie oor hartsake.

Heart

Sien, ek het mos die hart (van my voorvadere oorgeërf) wat net wil weghardloop. Nie figuurlik nie; letterlik. As enigiets die hart ontstel soos te veel suiker, te min oefening, te veel vet, verkeerde pille, nie genoeg pille nie of dan soos in die geval van die operasies, sommer net die narkose, dan hol die hart weg. Ek weet nie wat word hierdie siektetoestand genoem nie, want ek weier om met my dokter daaroor te praat. Ek weier om oor enige siektes en operasies te gesels.

My polsslag word in bedwang gehou met chroniese gebruik van beta blokkeerders en gewoonlik hardloop die hart taamlik egalig. Gewoonlik. Nie altyd nie. Hierdie storie begin waar die narkose (weer eens) die appelkar laat omval het. Ek beland ‘n volle week na die operasie toe weer in die hospitaal, in die middel van die nag, want ek het dit skynbaar nie in my samestelling om in die dag siek te word nie. Nee, dit moet die middel van die nag wees.

Ek beland in Aai Sie Joe. Natuurlik, dis my tweede huis. Ek word gekoppel aan die masjiene wat hartklop / polsslag (is dit dieselfde ding? newwermaaind, ek wil nie regtig weet nie), ritmes en ander goete meet. Ek word vol chemiese stowwe gepomp. Ek word, nog steeds met al die drade, masjiene en goete in plek, aangesê om te slaap. Die masjiene piep en toet elke keer as my hart klop, dan stadig, dan hopeloos te vinnig, dan glad nie (in welke geval daar ‘n sirene afgaan en alle personeel op my afstorm met skokstokke). Tussen al die geraas deur en die ligte wat op my skyn moet ek nou slaap? Ek dink nie so nie.

So, nou lê ek daar en luister na die masjiene, hou die monitors dop om te sien of ek nog leef  en sing saggies vir myself “Jingle Bells” op die maat van die gepiep en getoet, want dit is so rondom krismis. Langs my in die bed lê ‘n ouerige tannietjie en haar hartmasjiene skop net so ‘n lawaai op; sy kan ook nie slaap nie, dus sing sy maar saam met my en borsel haar hare met ‘n borsel wat vibreer en haar kopvel masseer (wederregtelik, want sulke toestelle word nie toegelaat in Aai Sie Joe nie). Daar in die hoek staan nog ‘n bed, in relatiewe donkerte en stilte, maar skielik klink daar ‘n ou, bewerige stemmetjie op uit daai rigting: “Please switch off that radio and for God’s sake, tell that woman not to use her dildo in here”.

Toe skater ek en my medelyer. Die saalsuster het amper ‘n oorval gekry en nog slaapmiddels uitgedeel. Iewers in die nag het my hart tot bedaring gekom en ek het ook ingesluimer. Sesuur die volgende oggend daag die hartspesialiste op vir saalbesoek en ek kry die een met die mooi krulhare en potblou oë wat amper veroorsaak dat my hartklop heeltemal verdwaal op die monitor.

Daar in die hoekbed sit die eienaar van die ou bewerige stemmetjie skielik penorent in die bed en die masjiene daar langs haar gaan af met ‘n groot geskal. Ek skat haar digby die honderd jaar oud, die koppie bewe en die stemmetjie slaan deur, maar sy spoeg met groot drif in my rigting: “Not only do you get to have FUN in the middle of the night, but you get the only looker among that lot as well”.

Advertisements