Dis gewoonlik ‘n besondere reuk wat my geheue laat bokspring na dertig, veertig, of vyftig jaar in my verlede. Hoekom onthou ek die reuk van reën op die stofpad voor ons huis daar doer in die jare sestig as ek nie kan onthou waar ek vanoggend my motorsleutels neergesit het nie?

Gister maak een van my mede-bloggers se mymerings oor die Weskus se wind weer die ongedierte in my los1 – daai ongedurige dier wat net op ‘n bus, ‘n vliegtuig, ‘n kar op ‘n donkie wil klim om in die voetspore van my kinderjare te gaan loop. Ons het eintlik in die binneland gewoon, maar afstande beteken nie veel in daardie omgewing nie en vakansies het ons gaan uitspan by “die see”.

So ‘n paar jaar gelede het ek en my laatlam die pad langs die Weskus af aangepak en by elke stilhouplek was daar ‘n herinnering, ‘n reuk wat my neus uit die verre verlede nog herken het, hoewel die mense wat ek geken het nie meer daar was nie en die bedrywighede van daardie jare merendeels gestaak is.

Yzerfontein herinner my aan die menigte vars snoeke wat ek en my man daar gekoop het, toe ons kinders nog klein was, en dan het ons gestaan en kyk hoe die vissermanne die visse oopvlek om die binnegoed uit te haal. Ek hoor weer die geknars van die seevoëls wat ewe hans toesak op die afval van die visse en hulleself help aan ‘n heerlike maaltyd. Maar bowenal ruik ek weer die smoorsnoek wat met aartappels en uie in die pot op my ma se swart koolstoof gaargemaak is, terwyl die patats stadig in die oond gebak het om later met regte botter en ‘n skeppie suiker daarby geëet te word.

Yzerfontein (24.08.2010) - 23

By Lambertsbaai onthou ek die reuk van vis wat vars van die bote af verkoop is in die hawe toe ek as jong kind daar by huisvriende gekuier het. Ek ruik weer die olie en diesel van die bote en hoor die opgewonde gesels van die vissermanne wat op pad is huis toe na die dag se goeie vangste.

By Paternoster sien ek en my spruit ‘n klein bootjie wat dien as versiering voor ‘n padstalletjie. Onmiddellik onthou ek, nog baie verder terug in die verlede, hoe ons met dieselfde soort bootjies kreef uitgehaal en sommerso vars op die strand gaargemaak het in Hondeklipbaai. Ek asem weer die reuk in van bamboes wat op die strand uitgespoel het en loop deur die digte mis af na die ou jetty toe in Port Nolloth. Ons het altyd gespot dat die mis so dig is dat jy groot happe moet vat om daar deur te kom.

Paternoster (24.08.2010) - 14

Ek vertel my dogter van die soutbokkoms wat my pa in bondels gebind en onder aan sy ou Bedford trokkie se bak gehang het. Die bokkoms was so sout dat dit die velle van jou lippe af gebrand het, maar ons het nie opgehou met eet nie. Ons was gewaarsku om die bokkoms te los sodat hulle behoorlik droog kon word, maar luister was min. Ek onthou hoe my jongste broer een aand ‘n bossie bokkoms gaan gaps het en sy kop stukkend gekap het onder die trokkie. My pa was ‘n man van min woorde en toe hy sien hoe die bloed vloei, soos wat maar die geval is met kopwonde, het hy die soutpot uitgeskud op broertjie se kroontjie. Die sout was boonop gemeng met witpeper, gereed vir gebruik by die aandete se vis, en dit moes gebrand het soos Niek se vuur, maar ons het van beter geweet as om te kla. Dit het in elk geval darem die bloeding gestop en ons is toegelaat om die bokkoms te hou.

By die aanhoor van die staaltjie, besluit my dogter om by die einste padstalletjie ‘n pakkie bokkoms te koop om, tot groot ontsteltenis van die toerleier en busbesuurder, saam te neem huis toe op die toerbus. Ons het maar vinnig verduidelik en gewys dat die vis vacuum packed was en geen reuk sou vrylaat nie. Nie dat ek sou omgee nie, want wat ruik lekkerder as bokkoms? Ek sou egter verkies het om weer by Port Nolloth op die sandduine te sit en die bokkoms te eet wat my pa self uitgedroog het.

Voetnota

1. Weer Mymering deur Olga se Okseltjies

Advertisements