“My borste, ek kan nie my borste kry nie! Waar is my onderklere? Kan iemand asseblief vir my jeans soek? Gou! Gou!”, jaag ek my huisgesin aan. “Hemel tog Vrou, waarvoor het jy nou borste nodig? En ‘n langbroek? – dis warm!”, ontplof my ongeduldige man. “Ma, jy kan een van my onderbroeke leen”, bied my seun aan.

Hierdie gesprek kan natuurlik slegs in my huis plaasvind. Laat ek nou eers verduidelik:-

Eerstens: ek het ‘n paar jaar gelede ‘n mastektomie gehad en wanneer ek in ordentlike geselskap verskyn, dra ek die nodige (baie duur, ingevoerde) fyn onderkleertjies waarvoor my mediese fonds vriendelik betaal. Dis nou net om bietjie aan te vul waar ek nou ‘n tekort het, sien?

Tweedens: ons het so pas getrek en alles is nog in wanorde; tasse is nog nie uitgepak nie, en wat wel uitgepak is, is in die eerste beskikbare kas ingeboender in die hoop dat ons dit weer gaan opspoor.

Derdens: ons leefwyse het nou so toetentaal verander, dat borste geheel en al onbelangrik geword het. Fyn ondergoedjies en langbroeke ook. Wat NOU belangrik is, is om die omgewing te leer ken en soveel ure as moontlik op die strand deur te bring. Ons is geretaaier.

Dus is alle kantoorklere vir liefdadigheid geskenk, die meeste van die fênsie klere ook, en ons leef in “vakansieklere”. Man en muis loop heeldag rond met swembroeke, kortbroeke en oorhanghempies wat nooit ‘n strykyster sien nie. Ons weet nie eens in watter boks die strykysters ingepak is nie. Alles word net in die wasmasjien gegooi en drooggemaak en weer aangetrek. Ons noem dit re-saaiklieng. Ons trek sommer mekaar se klere aan, want die weer is van so ‘n aard dat alle klere nie elke dag gewas kan word nie.

Voete1Ma het baie lanklaas ‘n paar skoene gesien. Sy loop die hele dag in haar Liewe Jesus sandaaltjies rond; sy het darem verkeie pare daarvan en sorg dat sy elke aand met die dag se gedraagde sandale in die stort klim, dan kom hulle ook sommer skoon en word op die balkon uitgegooi om oornag droog te word. Die toonnaels is getjip en die tone self kom ook nie meer so lekker skoon nie. Newwermaaind.

VoetePa is ‘n man wat hom sy hele lewe lank nooit regtig met formele klere opgehou het nie, maar hy het elke oggend sy ghrênd tekkies met sy paar skoon sokkies aangetrek nog voordat hy sy tande geborsel het. Hoe Ma ookal voorspraak gedoen het vir sandale, het hy nooit byt gekry aan enige ander skoensoort nie. Dis nou tot ons nou die dag by ‘n restaurant op die strand gesit en pizza eet het (nog iets waaraan Pa nooit sy mond gesit het nie) en die nat sand tussen die tone hom begin pla het. Net daar op die strand het hy by ‘n vriendelike verkopertjie ‘n paar opregte plêstiek crocs gekoop en aangetrek. Daarmee loop hy nou elke dag, dorp toe, winkel toe, see toe en sommer in die see in ook.

Die ding met die borste en ongergoedjies wat soek geraak het, het ‘n probleem geword net omdat ons die nuwe huis se kontrak by die prokureur moes gaan teken. Gelukkig het my geduldige dogter vir my die borste met ‘n bont spanbroek en ‘n skelpienk (ongestrykte) hempie opgespoor om die kontrak te gaan teken. Ongelukkig was daar van skoene geen teken nie en die sandaaltjies moes doen. En ja, ek het een van Ouboet se broekies geleen – dit sit so lekker snoesig en wys nie lyne as jy ‘n spanbroek aanhet nie. Hierdie een kry hy nie terug nie; ek gaan hom hou en nog ‘n paar aanskaf.

Hierdie blog is geskryf na aanleiding van die uitdaging gerig in https://scrapydo2.wordpress.com/2015/02/05/toeka-tokel-7-kleremode/

Advertisements