Kokkerot-stilleweKyk nou net hoe ontpop ek in ‘n skepper van artistiese werke. Nooit geweet ek het dit in my nie. Ek reken dat hierdie stillewe van dooie kokkerotte wat ek met my ou mik-en-druk kameratjie geskep het, van so ‘n toereikende aard is dat dit in ‘n kunsmuseum bewaar moet word vir ons nageslagte. Nou DIT sit nie in elke huisvrou se voorskootsak nie, veral nie sulke onhandige, onwillige en ontoereikende huisvroue soos ek nie. Om die waarheid te sê, ek weet nie eens of dit regtig kokkerotte is nie. Is hierdie spul nie dalk kakkerlakke nie. Is daar ooit ‘n verskil?

Ons het so pas van die Vaaldriehoek daar in Gauteng af getrek om te kom aftree en ontspan in die skoon, verfrissende seelug wat die Suidkus bied. Ek was so in my noppies met my “apartment” wat daar teen ‘n hogere bult sit en uitkyk op die oseaan, waar ek die vars lug kan inasem saam met die asemrowende sonsopkomste. Ja, ek was baie in my noppies, totdat ek die laaie oopgetrek het om my kombuisware weg te pak. Die apartment het vir ‘n paar maande leeg gestaan terwyl daar opknappingswerk aan die gang was. Die sogenaamde opknapping het definitief nie die verwydering van opgehoopte kokkerotkarkaste en -kakkies ingesluit nie. Dié sou ek nou maar self mee moes plan maak.

Ons het dus kaste uitgeskrop en skoongemaak vir die vale. Nie gif uitgesit nie, nee, want ons is natuurbewuste tree huggers wat geen lewende gediertetjie sal skade aandoen nie en buitendien, die kokkerotte was mos dan nou klaar dood. Sê wie? In die middel van die nag arriveer Ma se Grootwildjagter met ‘n lewendige kokkerot wat sy saggies op my kussing neersit terwyl sy kordaat miaau om my te laat verstaan dat die buit aan my behoort. Die Grootwildjagter maak ook niks dood nie, speel net daarmee, en tot my afgryse sien ek dat die groot blinkbruin lyfie daar op my kussing twee baie woelige voelers het wat rondtas na … wat?

Teen dagbreek begin die groot jag na die woonplek van die kokkerotte, want Pa sê hulle hou gewoonlik in ‘n spesifieke plek in die huis waar daar hitte, vog en voedsel is. Ek hol winkel toe om gif te koop, echo friendly oftenot; ek voel beslis nie meer friendly nie. So, daar word uitgerook, uitgespuit en lyke weggedra. Kakkies ook, ja.

Kokkerot-doodLaai

Toe vat Pa ‘n spuitkan en spuit ‘n klomp skuim in elke moontlike kokkerot-woning in. Die skuim rys soos ‘n oondkoek en word kliphard. G’n kokkerot sal weer by daai gaatjie uitkruip nie.

Sê wie? Die volgende oggend kom kry ek in my badkamer ‘n baba-kokkerotjie wat so dronk-dronk by die badkamerkas uitslinger en aanstap na die gang toe. Pa trap hom sommer sonder seremonie dood.

Haai siestog!, sê ek vir my dogter, as al die groot kokkerotte nou dood is, wat word dan nou van al die baba-kokkerotjies wat sonder kos daar onder in hulle gate bly sit? My dogter rol net haar oë en stel voor dat ek op die strand gaan ontspan. Ek het presies dit gedoen. Kyk dan nou net hoe geniet ek dit hier by die see!

By die see1

 Om kokkerotvry te bly: Kokkerot-sprokies