Toilet
Einste hierdie dogter van my wat haar ma se eetgewoontes so kritiseer, het so ‘n klein foutjie in haar samestelling: sy het ‘n piepklein ou blasie. Ons kan nêrens heen reis na plekke waar toiletgeriewe nie onmiddellik beskikbaar is nie. As ons van ons huis af na Pick ‘n Pay toe ry (‘n distansie van nie meer as twee kilometer nie), klim sy met die stilhouslag uit die motor met ‘n 50c muntstuk in haar hand – die prys van noodverligting hier in ons dorp.

Hierdie probleem het al vir benoude oomblikke gesorg, des te meer omdat my dogter nog vol nonsies is ook – sy maak nie sommer gebruik van enige geriewe nie; dit moet skoon wees, dit moet veilig wees en dit moet voldoen aan haar standaarde van welvoeglikheid. Daar is geen manier wat jy haar kan oorreed om ‘n bosgeriefie of ‘n klipskuilinkie langs pad te gebruik nie. Gevaarlik en onwelvoeglik, sien? Daar kan ongediertes skuilhou langs die pad of moontlik ‘n voertuig vol mense op die verkeerde tyd verbyry.

Sy dra altyd ‘n pak tissues met haar saam, ‘n lekkerruik toiletsproei vir die onwelriekende en ongesonde molekules wat deur die lug dryf, ‘n spuitblik insekdoder vir al die goggas wat dalk mag wegkruip in die geriewe, ‘n ekstra bottel water en / of wet wipes net ingeval daar nie lopende water is om hande te was nie, asook ‘n sanitêre reinigingsmiddel vir die toilet en haar hande. Die gevolg is dat wanneer ‘n reis beplan word, beteken dit ons moet (a) die roete beplan of ‘n vervoermiddel kies wat verseker dat daar ‘n toilet beskikbaar sal wees wanneer nodig en (b) ‘n ekstra groot handsak, wat sy beskryf as haar battle box, saamsleep net waar ons gaan.

Ten spyte van hierdie pynlik noukeurige  voorsorgmaatreëls, trap ons so nou en dan ‘n stel af, soos byvoorbeeld in die klein Noordkaapse dorpie waar die enigste motorhawe se enigste toilet eintlik maar net ‘n outydse “kleinhuisie” was – ‘n kleinhuisie sonder ‘n deur. Dis ietwat steurend om die gewone rituele uit te voer met die pompjoggies en mekênieks wat elke beweging dophou. Daar was ook die keer toe ons in ‘n wildvreemde land verplig was om een van daai Oosterse tipe toilets te gebruik. Dit op sigself was nie ‘n probleem nie, behalwe dat die Westerlinge se mik nie so goed was nie en hulle die gat heeltemal gemis het. Die gevolg was dat ons amper enkeldiep in die nattigheid moes staan of hurk om by te dra tot die offerande.

Die ergste ondervinding was egter die heel eerste keer toe ons met ‘n luukse toerbus (met ‘n ingeboude toilet) gereis het, daar deur die Sederberge en omstreke. Getrou aan my dogter se nougesette voorsorgmaatreëls het ons agter in die bus gaan sit, amper reg langs die toilet, vir vinnige, private toegang. Sy het nie kans gesien om met die paadjie af tussen al die uitgestrekte bene en bagasie deur te sukkel en dit nog met haar battle box  op sleeptou nie.

Alles goed en wel, maar daar was twee probleme:

Eerstens het die toilet se deur vasgehaak soos ‘n steeks donkie en kon jy dit net met brute krag oopruk van die buitekant af. As die deur eers oop was, was daar geen manier waarop jy dit kon vasmaak of toeknip van binne af nie; jy moes dit vastrap met een voet. Dit sou nou nie ‘n probleem gewees het as dit nie was vir die sitplek wat nie wou plat bly as jy hom afgeslaan het nie; dit hop net eenvoudig terug boontoe as jy laat los. Nou moet jy met die een voet van binne af die deur toetrap, op die ander been rondhop terwyl jy die nodige kledingstukke aan- of uittrek en dan sorg dat jy die sitplek vashou totdat jy kan gaan sit … sonder om die deur te laat gaan. Vir die ouer garde op die bus was dit nogal ‘n nagmerrie van ‘n aktiwiteit. My arme dogter het die grootste gedeelte van die dag met toe oë gesit en musiek luister om nie die manewales te aanskou van die geriatriese brigade wat binne gespook het om die taak te voltooi nie. Ek dink ek het genoem dat my dogter ‘n manie het oor privaatheid en welvoeglikheid waar dit by sulke sake kom, nè?

Die tweede probleem het ontstaan as gevolg van die lang afstande tussen die dorpe, die kort-kort stilhou om besienswaardighede te aanskou en die gasvrye etes waarop ons onthaal is. Die toerleier het die passassiers voor die tyd versoek dat gebruik van die toilet aan boord maar liewer beperk moes word tot noodgevalle, om te verseker dat daar nie ‘n verstopping plaasvind of ‘n onaangename reukie ronddryf in die bus nie. Sommige passassiers het egter by elke dorp so ‘n vinnige besoek gebring aan die plaaslike bottelstoor vir ‘n vloeibare versnaperinkie en almal het hulle vergryp aan die borde vol kos wat die restaurante langs pad voorgesit het.

Daar in die Piekenierskloofpas het ons op die laaste dag van die toer vir middagete aangedoen by ‘n restaurant met die naam van Kardoesie, waar ons weggelê het aan die Kaapse bobotie met geelrys en gestoofde vrugte. Die vriendelike restaurant-eienaar het ons toegelaat om nartjies te pluk in ‘n nabygeleë boord en al smullende aan die sitrusvrugte het ons die pad aangepak terug na Kaapstad toe.

Maar toe begin die gestoofde vrugte, die alkoholiese verversings en die sitrusvruggies met mekaar stoei, en die pad terug Kaap toe is lank en ver. So elke dan en wan moes iemand die geriefie gaan besoek. Met elke besoek het my dogter se wenkbroue hoër gelig en nader aan mekaar beweeg, en so onderlangs het sy ‘n bottel reukweerder uitgespuit. Ek het doodstil in my hoekie gesit en grinnik, nie ‘n woord gesê nie, dis immers nie ek wat die sitplek uitgekies het nie.

Ja, ons het weer op bustoere gegaan, maar het gesorg dat ons nooit weer in ‘n sitplek naby die geriefie beland het nie.

Advertisements