Sleutelwoorde

, , , , ,

Ek wonder of my kinders vooraf bedenkinge gehad het oor hulle ma se aftrede; indien wel, het hulle baie diplomaties nooit ‘n dooie woord gerep nie.

Sien, ek is een van daai veeleisende ma’s. Ek wil speel. Dis waarvoor ek kinders gehad het – sodat hulle met my kan speel. En hulle pa was niks beter nie. Selfs toe hulle klein was, het die twee seuns geduldig op die sypaadjie gewag terwyl hulle ma en pa op hulle splinternuwe BMX fietse straat af ry. Van vroeg af reeds het my dogter geweet dat haar papierpoppe nie om dowe neute in haar ma se bedkassie gebêre word nie.

Al drie van hulle het op baie jeugdige ouderdom geleer om kaart, bordspeletjies en skaak te speel. Ons het ure om Monopoly gespeel, Slangetjies en Leertjies, Ludo, Cluedo, Hearts, Snap. Ek is ‘n geesdriftige speler en ek moedig myself luidkeels aan. As ek verloor, stry ek daarteen – luidkeels.

Toe ontdek die kinders televisie en wil nie meer speel nie; hulle sit voor die kassie. Die terugslag word egter gou oorbrug en kort voor lank het Ma en Pa heerlik saamgelag vir Brakkenjan en Liewe Heksie, luiddrugtig die moer in geraak vir Juffrou Rottenmeier wanneer sy vir Heidie sleg behandel het en hartogtelik gehuil reg deur Never Ending Story. Ons is saam deur die He-Man, She-Man, Spider Man, Batman en Wannabe-Man fase ook.

Maar toe word die kinders groot en wou nie meer met ons speel of deel nie. Die seuns het verkies om Arcade Games en met meisies te speel en hulle suster het haar hond se geselskap bo ons s’n verkies. Ai tog. Ma en Pa was verlore vir baie jare, totdat my dogter (geseënd is sy onder haar geslag) televisie-speletjies met haar ma begin speel het: Tetris, Donkey Kong, Gorilla, Mario Bros … en Battle City.

Profile fb (2 of 2)Ek en Pa was albei ver aan die verkeerde kant van vyftig toe ek hom voorgestel het aan hierdie oorlog-speletjie waarin jy vyandige tenks moet uitroei. Ons het terstond ‘n nuwe, groter televisieskerm gekoop “om beter te kan sien, my Kind”. Aan die begin het ons goed saamgewerk as ‘n span, maar soos jy kan verwag van mense wat met soveel passie kan speel, het dit gou ontaard in ‘n stryd tussen die twee soldate wat albei aan die ‘goeie’ kant veg. “Vrou! Kom uit my pad uit! Jy WEET ek speel bo regs – bly onder en verdedig.”

Watwou, hoekom moet ek alewig die agterhoede dek? My tenk storm na die front toe, ry Pa se tenk onderstebo en nou is die oorlog in volle gang gang: “Jy skiet my! DIS EK DAAI! HOU OP OM OP MY TE SKIET!” Hoe later hoe kwater en die kinders raak verleë, want die hele straat kan ons hoor en die bure staan nader om te hoor wat verkeerd is.

Profile fb (1 of 1)Ouboet dink aan ‘n goeie idee. Hy bou vir Pa en Ma elkeen ‘n rekenaar en ons leer om internasionale Bingo te speel – aanlyn, elkeen op sy eie rekenaar. Ons word weggesteek in die nuut aangeboude familiekamer en die kinders kan voortgaan met hul eie lewens. Baie gou is daar egter weer onmin: “Ek kry g’n balle nie, het nommer sewe dan nou al verbygekom?” “Hoe moet ek weet? Speel jy in ‘n die regte Bingo-kamer?” “Ja, maar jou rekenaar is vinniger as myne!“ “Onsin, dis dan dieselfde soort”. “Ja, maar jy sit nader aan die router as ek.” Die Bingo-gevegte raak al hoe meer verbete en bereik ‘n hoogtepunt een aand toe Ma die Super Bingo waarvoor Pa die hele week gewag het, voor sy neus wegraap. Dit was duidelik tyd om ons te skei.

Die kinders koop vir Ma ‘n Wii vir Moedersdag. Ma speel tennis, baseball en ten pin bowling. Sy  spring op en af op die Wii bord, gil op maat van die musiek, raas soos ‘n maniak wanneer die ski’s met haar omdop en doen yoga wat dreig om haar holspiere te skeur. Teen hierdie tyd het die bure al ‘n tienvoet hoë skeidingsmuur tussen die twee erwe gebou (wie kan hulle kwalik neem?). Pa is nog steeds verslaaf aan Bingo en hy speel in sy eie vertrek waar net hy en die hond toegelaat word. Ouboet maak sy kamerdeur toe en luister na Koos Kombuis. Kleinboet gaan woon in die Kaap (ver van die Gekke Ouers af). Sussie vat haar skootrekenaar en gaan sit in die tuin met iPod oorfone om die klank te demp. Daar is (raserige) vrede in die huis.

Natuurlik kan dit nie altyd so goed gaan nie; Ma trap skeef op die Wii-bord en verstuit een van haar ou enkels. Nou sit die kinders met ‘n probleem en, innoverend van aard, gaan skaf hulle die Wii Mario Kart program aan, kompleet met stuurwieletjies en alles wat jy nodig het om te ry. Nou kan Ma sit en speel en O! dis so opwindend! Ma jaag dat bars teen rekenaarmannetjies en hoe harder die karretjies brul, hoe harder gil Ma. Sy ry oor landmyne, val in lawa-putte, gooi die ander ryers met bomme en gebruik lelike woorde as hulle haar terugskiet. Selfs Sussie steek aan en speel heerlik saam. Sy verbied haar ma om vieslike taal te gebruik, want dit betaam nie ‘n dame nie. Ma was natuurlik nog nooit ‘n dame nie.

Toe retaaier Ma, Ouboet gee boedel oor en trek in sy eie woonstel in, Pa is nog steeds verslaaf aan Bingo en leef in sy eie wêreld. Arme lankmoedige Sussie bly sit met Ma se groot speellus. Selfs op hierdie hoë retaaierment ouderdom kan Ma nie genoeg kry van speel nie en nou is sy nog meer verveeld as voorheen.

Sussie is gelukkig ‘n rekenaar-boffin en leer vir Ma van Facebook, Skype, You Tube, SoundCloud, Pinterest, Lightroom, Twitter, Photoshop en al daai lekker programme. Ma boer voor die rekenaar. En Ma ontdek blogs. Skielik heers daar ‘n doodse stilte in die huis, want Ma blog en Ma het ‘n opinie oor alles en sy deel dit graag. Sy publiseer die storie, “share” dit op sosiale media, bespreek dit met wie ookal bereid is om saam te gesels, maak oor die algemeen haar vriende en internet-buddies mal met haar menings en storietjies.

Uiteindelik is daar stilte in die huis.

Maar gaan dit hou?

Advertisements