Sleutelwoorde

, , , , , , , ,

Ek en my reisgenoot staan verlede week doer ver in KZN in Pick ‘n Pay om padkos te koop vir die rit terug huis toe na ‘n paar dae by die see. Sy weier summier om toe te laat dat ek ‘n pak droë vrugte koop “ter wille van Ma se gesondheid”. Boelshaait sê ek, van wanneer af is vrugte nie gesond nie?

Ma, blits my dogter haar oë, jy weet dit laat jou kak!

Ek is stom geskok, want sy gebruik nie gewoonlik sulke gekruide taal nie, nie teenoor haar ma nie en definitief nie in Pick ‘n Pay voor al die vreemdelinge wat ons staan en aangaap nie. Maar diep in my binneste weet ek presies waarop sy skimp.

Jare gelede, toe ek in die Vrystaat en Noord-Kaap gewerk het, het ek sommer so elke nou en dan my dogter vir ‘n paar dae uit die skool gehaal om saam met my op takbesoeke te gaan. Ek het nie kans gesien om haar alleen by die huis te laat bly terwyl ek die land deurkruis en soms tot twee nagte moes uitslaap nie.

Gedurende een so ‘n rit het ons Upington en Kakamas se omgewing besoek en toe kon dit nie hoër of laer nie, ons moes by die Augrabies waterval aandoen. Dit was ‘n goeie reënjaar en die waterval in volle vloed. Dit was ‘n lieflike gesig om te aanskou, werklik die moeite werd.

Ons het egter nie te lank vertoef nie, want ons moes nog dieselfde dag deurry Kimberley toe. Tog het ek tyd gevind om ‘n vinnige stop te maak by die padstalletjie net daar buite die hekke van die vakansie-oord. Vir padkos sien? – baie belangrik. Ek het ‘n hele paar pakke sultannas, gedroogde vye en perskes gekoop, saam met ‘n pakkie tjips en koeldrank vir my dogter.

Dit was hoogsomer en kokend warm, maar die Kadett het gespog met baie effektiewe lugverkoeling. Ek het sommer die pakkies vrugte daar op die dashboard gegooi en dit was ‘n baie goeie idee, want die son het die vrugte sag gemaak, lekker koubaar, en die heerlike geur in die motor versprei. So spring ons daar weg Kimberley toe, al kouende en so nou en dan vat ek ‘n sluk yskoue gaskoeldrank.

Nog lank voordat ons Kimberley haal, gis daai droëvye en gaskoeldrank dat ek dit kan proe in my mond. My maag raak al hoe meer opdrukkerig. Oftewel, afdrukkerig. Ongelukkig het ons so tien kilometer voor die dorp tussen ‘n konvooi army ratels beland en hulle ry teen ‘n slakkepas, op pad terug na die basiskamp toe na ‘n veldoefening. Die smal tweerigting pad is dié Vrydag besonder besig met aankomende verkeer en die ratels hou ook nie juis ‘n volgafstand groot genoeg vir my om die Kadett in te druk nie. So elke nou en dan skiet ek verby een van hulle en wurm myself tussen twee van die monsters in, hopende dat ek nie in hegtenis geneem word voordat ek die dorp haal nie.

Ons vorder egter maar stadig en ek raak al hoe meer ongemaklik. Totdat ek dit net nie meer kan hou nie en die Kadett met ‘n vaart in ‘n plaaspaadjie afdraai.

Die army outjies het seker nie juis geweet wat om te dink van die dame in haar kantoordrag en met haai polvaais aan wat agter ‘n drie-duim lange bossie reg langs die pad gehurk was nie. Tot hulle krediet moet ek sê, daardie dae se jongmans was goed opgevoed en het net aangehou ry, oë voor op die pad, asof niks verkeerd was nie.

My dogter egter … wel. sy is nie vergewensgesind van aard nie.

Advertisements