Sleutelwoorde

, , , , ,

Kokerboom Woud (26.08.2010) – 10Ek is ‘n kind van die platteland, ‘n halfwoestyn waar bitter weining gegroei het behalwe kokerbome in die droë veld, tussen die klippe en stof. O ja, en die geharde malvas wat ons as ‘kanniedote’ geken het en in die begraafplase geplant het, omdat niks hulle kon doodkry nie. Ten spyte van uiterste verwaarlosing het hulle gegroei en gedy in die brakwater, warm son en klipperige sandgrond.

Pouses op die skool se speelgrond waar daar nie eens malvas of kokerbome wou groei nie, het ons kinders uitgelate gehardloop en gespeel, onbewus daarvan dat in die wye wêreld daar buite, plekke was waar groen gras, blomme en bome in oorvloed groei. Ons lekkerste speletjie (veral na die ouderdom waarop die hormone ingeskop het) was altyd “Boompie Verplant”: ‘n klompie seuns het ‘n binnekring gevorm en dieselfde aantal dogters ‘n buitekring, sodat daar voor elke dogter ‘n seun in die binnekring gestaan en hulle dus ‘n ‘paartjie’ gevorm het. ‘n Spelleier gee dan opdragte aan die seuns om twee of drie plekke links of regs te skuif, dan weer drie of vier plekke regs en so aan, totdat die oorspronklike paartjies van mekaar geskei is. Dan gee die spelleier die opdrag “Boompie, verplant!” en die seuns skarrel rond om weer by hulle oorspronklike maats uit te kom, onder luidkeelse aanmoediging van die dogters. Vir die een wat laaste sy maat vind, word ‘n straf opgelê, byvoorbeeld om sy dogtersmaat op die wang te soen.

Daardie tyd se speletjies was op die oog af baie onskuldig, maar die ‘straf’ is met groot graagte uitgevoer, al blosende onder die wakende oog van ‘n klomp kinders en toesighoudende onderwysers.

Na skool het die jong boompies verplant, nuwe plekke besoek en wortels ingeslaan in vreemde stede in ander provinsies. In my geval het my studies, huwelik en verplasings ter wille van werk veroorsaak dat ek heelwat rondgetrek en vir amper veertig jaar nooit weer die ou skoolgronde van my jeug gesien het nie. Teen daardie tyd was ek gewoond aan my groot, waterryke tuin in die voorstede, met hoë bome, groen-groen grasperke en kleurvolle blomplante en het selde teruggedink aan my geboorteplek.

Toe my dogter en ek, op toer in Namakwaland, na soveel jare in ‘n kokerboomwoud staan en kyk na die skade wat jare se droogte en klimaatsveranderinge aangebring het, was ek onvoorbereid vir die skokkende hartseer wat ek ondervind het. Die eens majestueuse kokerbome wat ek as kind geken het, sommiges van hulle so oud as 150 jaar, was besig om uit te sterf; baie van hulle het reeds omgeval en teen die berghang afgerol. My kind het baie jammer gevoel vir haar ma en sou enigiets doen om weer blyskap in haar lewe te bring.

Kokerboom Woud (26.08.2010) – 4

Die toergids het vir ons beduie dat plantkenners in die omgewing saamgespan het om die kokerboom van uitwissing te red en dat jong boompies in verskeie kwekerye aangeplant en verkoop word. Toe kon dit nie hoër of laer nie, my dogter moes ‘n kokerboom aanskaf om huis toe te neem. Sy het die nodige permit gekry en ‘n vyf jaar oue boompie aangekoop. Dié is in die grootste gerief vervoer op sy nuwe eienaar se skoot, per bus en per trein, amper twee duisend kilometer ver, tot by sy nuwe huis. My sorgsame dogter het nie eenkeer gekla oor die feit dat niemand haar gewaarsku het dat kokerbome se skerp puntige blare jou lelik kan sny as jy hulle onverskillig hanteer nie. Sy het ook nie gekla oor die feit dat òf die boompie self òf die grond in sy bak luise bevat het wat haar gebyt het sodat sy vol rooi knoppies was van kop tot tone nie. Hierdie boompie sou sy verplant, net om haar ma weer gelukkig te sien.

By die huis het pa en dogter die boompie versigtig oorgeplant in ‘n nuwe pot met vrugbare tuingrond (fout nommer een), getrou water gegee (fout nommer twee) en staangemaak onder die skaduryke ou boom in die agterplaas om die koue te fnuik (fout nommer drie); dit alles ten spyte van die feit dat ek by meer as een geleentheid beduie het dat ‘n kokerboom gewoond is aan arm tuingrond, min water en blootstelling aan die elemente.

Die boompie het begin kwyn en sy blare het afgeval. In die somer is hy geskuif na ‘n nuwe staanplek in die son en het armer grond met fyn gruis ontvang. Ongelukkig woon ons in ‘n somer-reënvalstreek en hy het nog steeds te veel water gekry. Toe sy stammetjie begin vrot het, het ek besef dat hy nie in hierdie klimaat sou oorleef nie en wou hom met alle geweld terugneem huis toe. Die boompie is egter dood voordat ons hom in sy natuurlike omgewing kon terugbesorg.

Dit was ‘n dure les, een wat ons vasbeslote is om nie herhaal nie: “Boompie, verplant!” is nie ‘n opdrag wat altyd die skuldige vreugdetjie van ‘n soen op die wang meebring nie. Soms veroorsaak verplanting ‘n soort hartseer wat nie genees nie en ‘n verlange wat nie gestil kan word nie. Soms is dit vir die boompie beter om liewer toegelaat te word om te sterf in sy natuurlike omgewing, waar hy teen die berghang kan afrol om die grond daar onder in die leegte te bemes vir nuwe plante wat dalk ‘n voetholte daar mag soek.

Dit geld vir alle bome; mensbome ook.

Advertisements