Primus_StoveAl die bek-lawaai in die koerante en op die internet oor Eskom se neiging om die krag af te skakel enige tyd wanneer dit hulle pas, ongevraagd, onverwags en meesal onaangekondig, het my skielik laat dink aan ons ou praaimus stoufie.

My ma het ‘n fênsie koper-kleurige praaimus gehad wat altyd gebruik was om tee te maak vir kuiergaste. Toegegee, dit was ‘n baie mooi praaimus wat in die winter, met behulp van ‘n koepelvormige skild aan die agterkant, die heerlikste verwarmer geword het. Om watter aardse rede die praaimus egter gebruik is om tee te maak, is vandag nog vir my ‘n raaisel, want ons het toe jare reeds ‘n gasstoof in die kombuis gehad. Al ons huisvriende het gebruik gemaak van elektriese waterketels, maar nie my ma nie. Dalk was dit haar manier om die gaste te laat verstaan dat ons bereid was om baie moeite vir hulle te doen.

Die Tannies wat kom kuier het, is altyd saamgenooi kombuis toe om die seremonie van teemaak daar te aanskou en te geniet, terwyl my pa en die Ooms in die sitkamer gekuier het. As die dogter van die huis, was dit natuurlik altyd my werk om die tee voor te berei vir die gaste. Dit was ook my werk om toe te sien dat hierdie allerbelangrikste praaimus altyd blink-blink opgevryf was met Brasso. ‘n Vuil praaimus sou darem nie ‘n goeie indruk geskep het nie.

Ek het dit gehaat om tee te maak, want dit was ‘n vreeslike gedoente en ek was nooit juis ‘n handige persoon in die kombuis nie. Ek het alewig gesukkel om die praaimus aan die gang te kry, te meer nog so wanneer al die Tannies rondom die kombuistafel my mooi rokkie bekyk en bespreek het terwyl ek soos ‘n veelkleurige mot daar rondgefladder het. Het ek gesê dat my ma ‘n kleremaakster van faam was?

Maar terug by die praaimus: Eers moes jy ‘n bietjie blou brandspiritus in die spirits-koppietjie ingooi en aan die brand steek om die brander warm te maak. Dan moes jy die stofie pomp met alle mag om genoeg druk op te bou, sodat die lampolie kon verdamp deur die mondstuk in die brander waar die proses die vlam uitgespoeg het. Soms het ek vergeet om voor Sondagmiddag se kuiertyd lampolie in die tenkie te gooi en die pypie waardeur die lampolie verdamp oop te priek met die lang dun prieker (priemnaald), sodat die verdamping kan plaasvind sonder probleme. Wanneer ek die lampolie moes aanvul en die pypie ooppriek onder my ma en die Tannies se arendsoë, het ek altyd daarin geslaag om my Sondagbeste rokkie vol lampolie te kry.

Daarna moes ek die blinkgeskuurde alimimiumpot uitspoel in volle sig van die Tannies, sodat hulle kan sien ons is ordentlike skoon mense en dit, sonder om te stort, van die wasbak af na die tafel toe aandra om op die praaimus te sit. Dan moes ek daar rondstaan en die pot vol water op die praaimus dophou totdat dit kook terwyl die Tannies my nuuskierig uitvra het oor die ‘kêreltjies’ (altyd met so ‘n skalkse laggie) en oor my toekomsplanne. My antwoorde was maar altyd taamlik kortaf en ek het gewoonlik afgetjop nadat die kuiergaste vertrek het, want my ma was ‘n kwaai vrou. Wat ‘n vervelige tydverdryf vir ‘n tiener! My aandag het natuurlik begin wegdwaal lank voordat die water nog die eerste borrels gemaak het en meermale het die water oorgekook. Dit was ‘n groot fout, want water wat te lank gekook is, het veroorsaak dat die tee so ‘n aangebrande bitter smaak gehad het wat suiker blykbaar nie kon verdryf nie.

Sodra die water gekook het, moes ek die teepot uitspoel met die kookwater en dan die tee maak. Die teekoppies en pierings moes ek, onder wakende oog van my ma en die Tannies, netjies uitvee met ‘n skoon lappie. Terwyl ek die melkbeker (skoon uitgespoel) en die suikerbakkie (vooraf mooi skoongewas en volgemaak) op die tafel geplaas het, het die tee kans gekry om te “trek”. Die tee moes ek eers toets deur ‘n koppie vol in te skink sodat my ma kon inspekteer of ek ordentlike tee gemaak het. Natuurlik was die tee altyd te flou of te sterk, die water nie behoorlik gekook nie of te lank gekook, die tee nie behoorlik getrek nie of te lank getrek of die tee te vinnig deur die teesiffie gegooi (ons het destyds nog blaartee gebruik), met die gevolg dat daar blare in die teekoppies beland het. My ma het altyd fout gevind en dan het sy gewoonlik my brousel maar self reggedokter; ek dink dit was deel van die tee-seremonie wat moes bewys dat haar dogter reg geleer word.

In my eie huis het ek gesorg dat daar ‘n eletriese waterketel en elektriese stoof is. Ons het ook ‘n gasstofie en –lamp vir gebruik in nood.  G’n niks praaimusse vir my nie. Nou, met Eskom se manewales, vind ek egter dat ek heel dikwels harstogtelik verlang na die ou praaimus stoufie. Ek het, tot my verbasing, uitgevind dat hulle nog geredelik bekombaar is en deesdae nog meer fênsie is as die een wat ons gehad het.

Dalk moet ek tog maar ‘n ou praaimussie op my inkopielys skryf.

Advertisements