Al die onlangse besprekinge en woelinge rondom die wettiging van besit en gebruik van dagga in sommige Amerikaanse state het my laat dink aan die keer daar in die middel 90’s toe ek en my dogter ‘n paar dae in die Maluti-berge spandeer het. Sy was sowat elf of twaalf jaar oud, die ouderdom wat menige ouer laat gryp na sterk drank of ander verbode middels, ter wille van oorlewing.

Lesotho is ‘n waterryke en lowergroen land met riviere, diep valleie en dongas, watervalle en steil bergpasse; nie regtig die tipe omgewing waarin ek gewoonlik tuis voel nie. Ek is gebore en getoë daar waar die wêreld so plat is dat jy van jou agterstoep af sewe dae in jou eie toekoms in kan sien. En ek ly aan hoogtevrees.

Sommer met die intrapslag net nadat ons by die grenspos verby is, begin my stryd om oorlewing. Dis reëntyd in die bergkoninkryk, die riviere is in vloed en die sementbrûe is laag … en smal; so smal dat ek wonder of ek veronderstel is om met twee wiele in die lug te ry. Ek los die probleem op deur stadig te ry tot net voor elke brug, my oë toe te maak en vet te gee totdat ek weer grondpad onder my wiele voel. My dogter verwonder haar aan haar ma se skielike vroomheid. Nood leer bid, my kind.

Die plan was om interessante staproetes te bewandel, met die plaaslike bevolking te meng en sommer net die natuur te geniet in die geselskap van ‘n groep vriende. Ja, dit was wat ek beplan het. My dogter het ander planne. Sy wil nie op wandelpaadjies lóóp nie, nee, sy wil daarop rý. Met egte opregte Basoetoeponies. Koebaai aan my planne.

Douvoordag die oggend is die ponies daar, saam met hulle eienaars wat ons gaan vergesel. Die toerleier staan ons by met die invul en teken van ons vrywaringsbriewe; daai dokument wat sê “Jy ry op eie risiko”. Die ponies is in goeie kondisie, spekvet en gesond. Ja, want hulle kry dagga saam met hulle voer – dis baie goed vir ‘n perd se konstitusie, beduie die toerleier doodluiters. Ai jirretjie tog …. nou moet ek reis op die rug van ‘n dagga-verbruiker, en dit op eie risiko!

Die eienaars oorhandig aan elkeen van ons ‘n kort stokkie en gee raad: Basoetoeponies laat hulle nie hiet en gebied nie en jy beter buite bereik van hulle tande bly. No shit Sherlock, wie sou nou gedink het perde být? Dog nog altyd hulle tande is net vir versiering. Die beste is om met slap teuels te ry en die ponie toe te laat om sy eie pad te vind. As hulle gaan stilstaan om aan grassies (die verbode soort?) langs pad te vreet, moenie die teuels styf trek of oplig nie, jou ryding mag jou dalk net aflaai. Tik die ponie se flanke so liggies met die punte van jou stewels, klik met jou tong en as hy nog nie wil gehoorsaam nie, wys vir hom jou stokkie.  Wýs net die stokkie nè? As jy slaan, word jy dalk afgelaai. En dis ‘n vér pad aarde toe daar bo van die ponie se rug af.

Ons geselskap ry in enkelgelid al langs die bergstroompies af, teen steil berghange uit en op rotslysies wat so nou is dat jy plek-plek side saddle moet ry om te keer dat jou knieë nerfaf geskuur word teen die skurwe rotswand. Aan die ander kant, waar jou bene nou oorhang, is daar ‘n afgrond wat doer ver onder in ‘n rivier eers einde kry. Die ponies is geteel en grootgemaak in die berge en hulle is so vlugvoetig soos enige bergbok. Daai pote, so groot soos sopborde, plaas hulle mooi netjies agtermekaar op die smal lysie en vreet so nou en dan aan grassies (is dit dalk …??) wat tussen die klippe groei.

Ek is nie ‘n ontspanne ruiter nie – ver daarvandaan. My dogter sit rustig op haar ponie se rug en geniet die uitsig terwyl sy geluksalig en ritmies aan ‘n grashalm kou (nee, dit is darem seker nie …??).

Lank nadat die ander ruiters al berg-af is, stap my ponie nog al weiende aan met my wat om lewe en dood aan die saal klou, teuels lankal vergete en baie slap. Een van die medewerkers sien ‘n opening om sy betaling aan te vul en bied aan om my ponie te lei vir ‘n fooitjie. Ek aanvaar met dankbaarheid en betaal hom sommer dubbel om my terug te neem kamp toe. Hy verkneukel homself in my ongemak, sê-vra in sy gebroke Engels: “Now you sit there like queen?”.  Queen se gat. Mý gat is rou geskuur en my senuwees is klaar. Dalk moet ek ook ‘n bietjie perdevoer eet vir aandete?

Advertisements