MaakiesDie woord-prentjie hier naasaan laat my brul van die lag elke keer as ek dit sien, en dis heel dikwels, want dit het soos ‘n aansteeklike siekte versprei oor die internet sodiale media.

Ek kon nie die oorsprong daarvan vasstel nie en dus kan ek nie die nodige erkenning gee aan die kunstenaar nie, maar hierso my pêl… vat vyf! Dit dra die boodskap nommerpas uit.

Ek het ‘n broertjie dood aan die vriendelike dokter wat vir my ‘n stropie voorskryf vir die seer mangeltjies en my daarvoor ‘n rekeninkie gee wat my bankrekeninkie is sy maai stuur. Of wat van die die tandarts wat ‘n klein inspuitinkie gaan toedien (met ‘n naald so dik en lank soos sy voorarm), om my kiestandjie te trek? Dan breek hy nog amper my kakebeentjie in die worsteling om die tandjie uit te kry. Is die verkleinwoordjies veronderstel om my te troos? Dit werk nie hoor, hierdie manier van praat maakies my net naarkies.

Lank, lank gelede, op die plattelandse myndorp waar ons gewoon het, het ek ‘n spierwit pokkel van ‘n Persiese kat present gekry. Dit was ‘n meneer van ‘n kat wat elke tweede dag ‘n pond (sowat 450g vir die gedesimaliseerdes onder ons) tenderised steak opgevreet het. Jip, daai jare was vleis spotgoedkoop en net die kat het beesvleis geëet, die res van ons het skaaptjops verkies. Nou wanneer hy so op die tweede dag sy pond vleis ingeasem het, gaan sit en slaap hy die res van die dag om op my vensterbank, in die middagsonnetjie. Son dêmmit, son! Nie sonnetjie nie! Daai Namakwalandse son was ‘n vreeslike son, selfs in die winter.

In elk geval, so staan en gesels ek eendag met die buurvrou oor die draad en skielik verstar sy, in die middel van die skinderstorie wat sy besig is om te vertel. “Kindjie”, sê sy vir my, “nou het ek my gatjie afgeskrik. Ek dog nog allie tyd daai katjietjie in jou vensterbank is ‘n porseleinkatjietjie. Nou sien ek dis ‘n regte katjietjie.” Daai verkleinwoordjies het my verstom gelaat, maar darem nie naarkies gemaakies nie.

Wat my vreeslik naarkies maakies is daai verkleinwoordjies wat as aanspreekvorm gebruik word: “My Tantetjie” of “My Oompie”. Hierdie benaminkies word gebruik òf om neerhalend te wees òf om toegeneentheid te betoon (werk maar self uit watter een is toepaslik by welke geleentheid), maar wat ookal, dit maakies naarkies.

Ag tog, en moenie vergeet van die liefdeswoordjies waarmee ‘n agterbakse jakkals sy “lieflingetjie” probeer oorreed om haar “bekkie” te tuit vir ‘n “soentjie” nie. Dis so stroopsoet dat jou kiesies eintlik op ‘n knop trek soos dié van ‘n Graad Eentjie wat pampoentjies het. Dit maakies naarkies. Jirre, dis om van te kotsies.

Advertisements