The Premier Classe train in Beaufort-Wes

Ek het ‘n gunsteling reismaatjie. Sy is my jongste, my laatlam en my enigste dogter. Sy weet hoe om te pak vir ‘n vakansie, sy weet hoe om haarself te geniet, sy weet wanneer om stil te bly en wanneer om saam te raas.

Sy kry ook hierdie absolute wonderlike idees vir vakansies, soos byvoorbeeld die keer toe sy besluit het dat ons moet gaan trein ry. My meisiekind het nog nooit haar voet op ‘n trein of selfs op ‘n stasieperron gehad nie en sy kon nie langer hierdie gaping in haar opvoeding duld nie.

Ek was maar taamlik skepties, want ek het grootgeword in die jare van steenkooltreine en het heelwat op dié manier gereis van Bitterfontein tot in die Kaap, asook ‘n paar keer Pretoria en Durban toe. Dit was, wat my aanbetref maar ‘n taamlike ongerieflike manier van reis en laat ons nou maar eerlik wees, wanneer ek ry, verkies ek om self te bestuur; ek is ‘n senuweeagtige passasier en ‘n baie goeie bêkdrywer.

Dit kon egter nie hoër of laer nie, ons moes op die trein spring Kaap toe. Premier Classe nogal, daai pers trein. Die kaartjies is gekoop en Meisiekind het begin pak, een tas vol klere vir elkeen van ons, een sak met eetgoedjies en een tas vol boeke. Ja, ons is mense wat lees en in daai dae het ons nog nie e-book readers en audioboeke ontdek nie. Ja en, terwyl ons lees, moet die kakebene roer. Ons moet goed voorsiening maak, want die treinrit duur ‘n dag en ‘n nag tot daar en nog ‘n dag en nag terug en tussenin gaan ons op ‘n weeklange bustoer ook.

So spring ons op die trein met Ouboet se duur kamera om die nek, laptop onder die blad en Blackberry foon in die sak, met instruksies om fotos en nuus op Faceboook te laai. Goed geklede, vriendelike personeellede verwelkom ons in daai wa waar enigiets gedrink kan word enige tyd van die dag (of laatnag). Toe word ons gewys waar die dining car is en vertel hoe laat ons kan eet. Intussen is ons bagasie vir ons opgelaai en ons word vergesel na ons luukse slaapkamers. Wat ‘n verrassing! Die kompartemente soos ek dit geken het, het soos mis voor die son verdwyn. Die ou harde treinbanke het plek gemaak vir luukse sleeper beds en elke wa spog met sy eie stort.

Ons skud ‘n pak met kougoed daar uit, kry elkeen ‘n boek beet en gaan maak ons tuis op die gemaklike lêplekke. Ons kou, ons lees, so nou en dan loer ons deur die vensters om te sien waar ons is (het immers al etlike kere hierdie afstand per motor afgelê en niks het juis verander nie). Toe sit ons af na die dining car toe en net daar slaan ons asems weg oor die uitstekende kos, so mooi opgedien deur sulke bekwame kelners.

Die volgende oggend bel Pa. Waar is die fotos wil hy weet. Op Facebook mos! Is dit nou al wat julle raakgesien het of het julle darem nou en dan by die venster uitgekyk? Skuldig gryp ons die kamera en kliek weg. Net voordat ons weer terugsak op die bed met nog ‘n boek, stuur ons gou ‘n boodskap Facebook toe. “Heerlike reis, baie mooi uitsig vanaf die trein, sneeu op Matroosberg. Aangeheg foto van turksvybos wat bo-op ‘n huis se dak groei. Besonders, is dit nie?”

Prickly pear growing on the tin roof of and old building in Potfontein

Advertisements