Ek is ‘n Namakwalander, gebore en getoë, maar is in 1971 daar weg om te gaan werk in die stad. Ek het vir baie jare nooit weer my pad huiswaarts gevind nie; ‘n mens raak mos so besig daarmee om ‘n lewe te maak, dat jy later vergeet om dit te lééf.

Sowat veertig jaar later begin my meisiekind neul dat sy wil gaan kyk waar haar ma grootgeword het. O ja, en sy wil die Namakwalandse blomme gaan kyk, so sy bespreek vir ons plek op ‘n blomme-toer, per bus deur my geboorteland. Ek was ‘n bietjie skepties, want ek weet uit ondervinding dat ‘n mens gewoonlik teleurgesteld is as jy probeer terugloop op ou voetspore en jy vind uit dat die pad toegewaai het, niks is meer dieselfde nie. Ek weet ook, uit jarelange ondervinding, dat Namakwaland nie sy blomme uitstoot wanneer dit jou plesier nie; Namakwaland doen dinge op sy eie tyd. Oor laasgenoemde was ek een honderd persent reg, ons het byna g’n niks blomme gesien nie.

My dogter loop egter bo-oor al my argumente soos ‘n wafferse bulldozer. Toe ek weer sien, sit ek op ‘n bus in ‘n bitterlike koue en reënerige Augustusmaand en ek bid dat die busdrywer (en al sy passasiers) dit lewendig maak teen die Van Rhyns bergpas uit. Ons het dit lewendig gemaak tot bo in Nieuwoudtsville en in die gietende reën is ons per voet vort om die waterval te bekyk. Daar aangekom, ‘oe’ en ‘aa’ almal oor die water wat stort na benede, net ek bly skoon verstorwe staan en staar na ‘n geil plaat groen melkbosse. Ek breek ‘n takkie af en verwonder my aan die taai wit melk wat oor my vingers drup, en in die reuk van die melkbos herken ek die voetpaadjies van my kinderdae.

Daar is niks, NIKS, op hierdie aarde wat so lekker ruik soos ‘n droë melkbos wat aan die brand gesteek word om ‘n vuurtjie te begin nie. Die melkbos brand nie soos ander hout nie, hy ontplof met so ‘n swoesj-geluid en dan moet jy gereed staan om die fyn veldhoutjies op die smeulende as te gooi om die vuurtjie aan die brand te kry. Die reuk van die melkbos se brand bly egter hang in die lug, lank nadat die asse reeds weggewaai het. Daar langs die melkbos raak ek weer tien jaar oud en ek ruik die veldvuurtjies wat ons aanmekaar geslaan het om ‘n taai, soet tameletjie te maak in ‘n ou jêmblik wat ons saamgedra het. Ek onthou die reuk van die Gold Dollar Blue sigarette wat een van die klein Kotze’tjies eendag by hulle pa gesteel het en wat ons skelm gerook het daar agter die groot plat klip. Dis dieselfde klip wat ons gesmeer het met die knolle van die Pietsnotte wat ons uit die los Namakwalandse grond opgegrawe het. Ek onthou hoe ons op ‘n ou stuk kartonboks teen die gesmeerde klip afgeseil het.

Eers toe my dogter roep dat ons moet teruggaan bus toe, besef ek dat die trane teen my ken afdrup.

Daarvandaan ry ons ‘n kort entjie om by die plaas Matjiesfontein te kom waar middagete vir ons wag. Ons gly-gly deur die modder tot in die ou skoolgeboutjie wat nou ‘n restaurant huisves en die gasvrou bedien ons met ‘n dis wat Bietjie-Bietjie genoem word, omdat daar twee soorte kos op die bord is, ‘n bietjie tamatiebredie en ‘n bietjie kerrie-afval. Jirre, watter jaar laas het ek kerrie-afval geëet?

Matjiesfontein boereplaas, Nieuwoudtville

Bietjie-Bietjie Kerrie-afval en tamatiebredie in een boord

Kookskerm op Matjiesfontein, Niewoudtville

Ek stoot my mes en vurk eenkant toe en tel die beentjies met my vingers op om die vleis en sous af te suig. Die reuk van die melkbos klou nog aan my vingers en ek kan sweer my verbeelding speel my parte, maar daar is ook die reuk van ‘n veldvuurtjie in my neus. Na ete gaan wys die gasvrou vir ons die oop kookskerm net buite die restaurant waarop die Bietjie-Bietjie in groot potte gekook word, op ‘n vuur wat gestook word met hout uit die veld op die plaas. Die reuk van die vuur hang rondom die kookskerm en die klipgeboutjie.

Daardie aand sit ek vir Pa twee foto’s saam met ‘n eenvoudige boodskap op Facebook: “Vandag het ek getjank oor ‘n melkbosvuur en Bietjie-Bietjie geëet”.

 

Advertisements